Teks: Markus 10:17-31
Liedere: 192:1,2,3 220:1,2,3 482:1,2,4
Elke mens het die ingebore wens om goed te wees en goed te doen. Mense word verder deur die vrees vir straf of die belofte van ‘n beloning gedryf om die regte ding te doen. As jy dan verkeerd optree, maak ons verkeerde dade ons skaam. Nou sit ons met ‘n probleem. Ons is staan skuldig voor God. Verskillende gelowe stel dan verskillende metodes voor waardeur ‘n mens jouself met God kan versoen. Deur afsondering of meditasie, wetsonderhouding, selfopoffering, lyding of diensbaarheid, om maar ‘n paar te noem. Ons wil graag hoor ons is vergewe en vir God aanvaarbaar.
In hierdie verhaal hoor ons van ‘n jongman wat sy hele lewe lank volgens hierdie model geleef het. ‘n Man wat ook gedink het dat hy deur die regte dinge te doen God se guns sal verdien. Hy besef egter dat hierdie inspanning steeds nie vir hom sekerheid bring nie. Iets kort. Daarom is hy so opgewonde toe hy van Jesus hoor wat vir die mens die ewige lewe belowe. Hy hardloop na Jesus toe en val op sy knieë voor Jesus neer. “Goeie Leermeester, hoe kan ek die ewige lewe ontvang?”
Jesus begin deur vir hom te sê dat niemand, behalwe God, goed is nie. Daarom kan niemand genoeg doen om deur God vry verklaar te word nie. Die man hoor nie wat Jesus sê nie. Jesus sê dus vir hom dat hy dan die volle wet moet onderhou. Ook hiermee het die man blykbaar nie ‘n probleem nie. Dit doen hy van sy kinderdae.
Dan kom die draai in die verhaal. Jesus sê vir die ryk man dat hy van al sy besittings, wat sy identiteit vorm en waarin hy sy sekerheid verkry, moet verkoop, alles vir armes uitdeel en agter Jesus aan kom. Skielik vra Jesus vir hom te veel. Hiervoor sien hy nie kans nie. Daarna draai hy bedruk weg. Hy het gedink daar is dalk net nog iets wat moes doen en dan ontvang hy die ewige lewe. Jesus sê egter dat hy volledig moet oorgee. Hy moet van al sy sekuriteite afsien en net op Jesus vertrou. Dis vir hom te erg. Die vraag aan ons is of ons ook op ons voorwaardes die Here wil dien of is ons bereid om werklik volledig aan Hom oor te gee, want niemand wat ter wille van hom sy lewe aflê sal ooit sonder die ewige lewe wees nie.