Preekskets 24 November 2024 Ds Jacques – Die Here regeer


Teks:  Psalm 93

Liedere:  157:1,2  202:1,2,3  158:1,2,3

God regeer!  Ons is baie lief om dit te sê of ons sê dit baie maklik.  In liedjies word dit gesing, ons gebruik dit in ons gebede en ons plak dit op plakkers agter op ons motors.  Maar wat beteken dit werklik vir ons in die praktyk, in ons alledaagse lewe?  Die een oomblik maak ons hierdie belydenis, net om die volgende oomblik ons ontsteltenis uit te spreek oor dinge wat verkeerd loop in ons lewe.  Gewoonlik dan met die opmerking:  Hoe gaan ek hierdeur kom?

Psalm 93 help ons om te verstaan hoe ons hierdie uitspraak oor God prakties in ons lewe kan realiseer.  Volgens vers 1 en 2 is daar ‘n vaste plan van God vir die wêreld.  Hierdie plan is onveranderbaar en onwankelbaar.  Daarom staan God se heerskappy oor die wêreld ook vas.  Hy is Koning.  Hy is in beheer.  Daarom is daar vir ons vastigheid en sekuriteit in God.  Hierdie gebed is deur die Jode die Vrydag aand van Sabbat gebid.  Dit het na die ballingskap die gebruik geword.  Hierdeur is hulle aan die sekerheid wat hulle in God het herinner.  Selfs al was hulle in ‘n vreemde land en het hulle alles wat vir hulle belangrik was verloor, het God hulle steeds beskerm en terug gebring na hulle land.  Hy sal altyd na hulle omsien.  Hy doen dit vandag nog steeds ook vir ons.  Dalk is daar uitdagings, slegte tye of terugslae in ons lewens.  Juis dan moet ons herinner word dat God daar is en dat Hy ‘n onwankelbare plan het.  Ons moet ons harte stil maak en na die waarheid luister. Hy is ons God wat in majesteit geklee is.  Hy is heeltemal in beheer.  Hy het die wêreld geskape.  Hy hou Sy hand oor hierdie wêreld en omdat Hy ‘n onwankelbare plan het moet ons glo dat alles sal uitwerk.  Ons moet op Sy Woord vertrou.  Ons moet naby aan Hom leef.  Ons weet ons is Sy skape en ons is op pad na Sy ewige woning.  Neem nou reeds jou intrek by Hom.  Kom ons buig ons voor Hom neer en erken Sy almag, gesag en heerskappy.  Sy Woord is Sy betroubare getuienis oor Homself.  Glo dit!  Vertrou Hom!