Teks: Lukas 3:1-20
Liedere: 334: 1,2,3,4 332: 1,2,3,4 338: 1,2,3,4
Johannes is goed aan die preek. Sy preke lewer ongekende resultate. Die mense kom in strepe om na sy boodskappe te luister. Sy boodskappe en voorkoms is nie in ons terme “verbruikersvriendelik” nie. Hy dra kameelhaar klere en eet veldheuning en sprinkane. Sy boodskap is ook direk en op die man af. Hy sê vir die mense dat hulle lewend vir die Here moet wees. Sy boodskap bestaan uit 3 dele. Eerstens waarsku hy die mense oor die naderende oordeel van die Here as gevolg van die mense se ontrouheid. Tweedens roep hy die mense op tot bekering. Hulle moet hulself laat doop. God sal hulle sondes vergewe as hulle in opregtheid daarvoor vra. Derdens doen hy ‘n beroep op die mense dat hul bekering tot ‘n konkrete etiese leefstyl sal lei.
Hy draai nie doekies om nie. Hy praat reguit met die mense. Hy weet wat God wil hê dat hulle moet hoor. Sy boodskap sê in kort: Julle sien dalk ‘n vuil, stinkende profeet, maar ek kyk na julle en dan sien ek vuil, stinkende harte voor my. Dit maak julle verlore mense. Hierdie boodskap raak die mense se harte. Hy sê dat die mense soos slange is wat voor ‘n vuur vlug. Hulle weet die gevaar kom en dat hulle moet vlug, maar hulle weet nie waarheen nie. Hy weet wat die antwoord is en waarheen hulle moet vlug.
Johannes is ook keelvol vir die Jode wat altyd daarop roem dat hulle van die regte bloedlyn afkomstig is. God kan vir Hom mense uit klippe maak as Hy wil. Dit wil Hy nie doen nie, want Hy is opsoek na opregte, vrugdraende mense. Belastinggaarders, soldate, almal kom luister en hoor hierdie boodskap. Hy praat selfs met die koning oor die swak morele voorbeeld wat hy vir die volk stel. Nou het Johannes te ver gegaan. Hy het die verkeerde persoon in gesag aangevat. Tog kan Johannes nie stil bly nie. Hy moet die pad vir Jesus gereed maak. En almal moet dit hoor, selfs die koning van die land. Almal het ‘n Verlosser nodig. Vandag moet dieselfde nog steeds gebeur. Mense moet nog steeds met Jesus gekonfronteer word. Almal het steeds ‘n Redder nodig. Daarom moet ons in Kerstyd vir Jesus sentraal plaas. So is ons gereed om vir baba Jesus aan die wêreld as die Messias bekend te stel. Die wêreld moet dit hoor.