Teks: Jesaja 12:1-6
Liedere: 344: 1,2,3 335:1,2 353:1,2,3
Die kleur van die adventkrans vir die week is pers. Dit simboliseer vreugde. Ons moet jubel oor die Here. Daar is 3 groot redes hiervoor. Eerstens jubel ons oor die koms van Jesus na die aarde. Sy geboorte het alles op aarde kom verander. Daarom kan ons nie anders om uit vreugde te jubel nie. Tweedens herken ons Jesus se daaglikse teenwoordigheid in ons lewens. Ons is bewus van Hom in ons midde. Ons hoef nie een enkele tree te neem of een enkele besluit te neem, sonder dat Hy reg langs ons is nie. Dit vul ons met ongekende vreugde en laat ons jubel. Derdens weet ons dat Jesus weer in heerlikheid gaan terug keer om ons te kom haal.
Voor die koms van Jesus na die aarde was ons vasgevang in ons sonde. Ons het God se woede en toornigheid oor ons ongehoorsaamheid beleef en dit gevrees. Na die koms van Jesus en na Sy kruisdood, het ons van al meer van God se vertroosting en vergifnis bewus geword. Ons weet dat God baie ernstig voel oor gehoorsaamheid. Hy haat die sonde. Hy is baie ernstig oor sonde. Ons sien in Jesaja hoe die volk van die Here deur die profeet gewaarsku word dat daar ‘n ongekende tyd van straf op hulle wag as hulle niet tot inkeer kom nie. Dis dieselfde God wat ons vandag aanbid. God se houding teenoor sonde het nog nooit verander nie. En ons geneigdheid om sonde te doen het ook nie gestop nie. So wat het dan nou verander? Jesus Christus het in ons plek die straf vir ons oortredings gedra. Daarom kan ons nou deel in Sy oorwinning. Ons word deur Sy offer vrygemaak. Ek moet nou my vertroue in Hom stel en ek hoef nie meer die straf vir sonde te vrees nie. Jesus het vir ons kom doen, wat ons nie self by magte was om te doen nie. Dit is wat verander het. Daarom dank ek die Here. Hy is my Redder. Ek verheerlik Sy Naam. Daarom is ek so opgewonde oor Kersfees. Die herdenking van die koms van Jesus na die aarde. Die geskenk wat God self vir ons gegee het sodat ons as nuwe mense vir Hom kan leef. Dit laat my jubel van vreugde.