Preekskets 05 Januarie 2025 Ds Jacques – Prys God vir Sy seëninge


Teks:  Efesiërs 1:3-14

Liedere:  464:1,3,4  238:1,3,5  268:1  475:1,2

Twee boeties is besig om met mekaar te stry.  Die een is hul ouers se biologiese kind en die ander een is aangeneem.  Die eerste boetie sê toe vir die ander dat hy die enigste ware kind van sy ouers is, want hy is uit hulle gebore.  Dit het natuurlik die tweede seuntjie se hart baie seer gemaak, maar hy antwoord sy boetie toe met die volgende:  Jy mag dalk ons ouers se biologiese seuntjie wees.  Ten minste wou my ouers my hê en kon hulle my kies.  Met jou moes hulle maar vat wat hulle gekry het en nou sit hulle met jou opgeskeep.

Wanneer ons aan God dink moet ons besef dat God ons gekies het.  God sit nie bloot net met ‘n sondige klomp mense opgeskeep en nou moet Hy maar die beste van hierdie situasie maak nie.  Wanneer Paulus in hierdie gedeelte beskryf hoe goed God is, is dit amper asof Hy nie genoeg daaroor kan sê nie.  Voor die grondlegging van die aarde het die Here reeds geweet dat Hy ons gaan skep.  God het toe al van elkeen van ons geweet en Hy het toe reeds gesê dat ons vir Hom kosbaar is.  Hy het toe reeds ‘n wonderlike verhouding tussen Hom en Sy geskape mense in gedagte gehad.  Hy wou toe reeds gehad het dat ons deel van Sy familie sal wees.

Dit is so belangrik om dit te besef, veral ook wanneer ons so aan die begin van ‘n nuwe jaar staan.  God het ons oneindig lief.  Al werk ons aardse planne en drome nie altyd uit soos wat ons dalk gehoop het nie, verander dit niks aan ons posisie voor God nie.  Juis dan kan ons aan die wonderlike beloftes van God vashou.  God het ons oneindig lief en geen optrede of besluit wat ons neem sal dit ooit verander nie.

Dit is so deur God bepaal.  In die Ou Testament was die Israeliete Sy uitverkore, spesiale volk.  In die Nuwe Testament word alle gelowiges by Sy familie ingesluit.  Gelowiges word Sy nuwe volk of familie.  Maar dis so belangrik om te besef dat ons in hierdie unieke verhouding met God staan om ‘n rede.  En daardie rede is om Sy lig na die wêreld te neem.  Ons word geseën sodat ons tot seën vir ander kan wees.  Ons ontvang die Heilige Gees as seël daarvan, om ons te herinner dat ons God se volk is en duur deur Sy enigste Seun gekoop is.  Ons word deur die Gees gemotiveer om in Sy diens te staan.  Kom ons prys Hom dat ons by Sy familie ingesluit is.  Kom ons getuig daaroor, met die hulp van die Heilige Gees.