Preekskets 29 Desember 2024 Ds Jacques – Gebruik my Here


Teks:  Lukas 1:38-50

Liedere:  365:1,2,3  355:1,2  364:1,2,3

Lukas se beskrywing van die geboorte van Jesus is baie meer uitgebreid as die ander 3 Evangelie skrywers.  Lukas is nie haastig nie.  Hy begin met ‘n aanloop wat met Elizabeth en Sagaria begin.  Die hoëpriester wat nie die aankondiging van hulle seuntjie se geboorte glo nie en wat dan met stomheid gestraf word weens sy ongeloof.  Sy vrou is al bejaard en sy moes jare van kinderloosheid verduur.  Dan verskuif die verhaal na Maria, ‘n jong verloofde dogter, wat ook ‘n besoek van ‘n engel ontvang.  Ook sy hoor dat sy wonderbaarlik swanger gaan raak. 

Daarna verskuif die verhaal na die ontmoeting van die 2 vroue.  Maria gaan na Elizabeth se huis.  Daar word niks van Maria se familie se reaksie op die nuus vertel nie.  Ons hoor net dat haar verloofde Josef nie verder kans sien om met sy swanger verloofde te trou nie.  Met tyd ontvang ook hy ‘n besoek van ‘n engel wat hom oortuig dat die geboorte ‘n wonderwerk is en dat hy vir Maria in hierdie tyd moet bystaan en wel met haar moet trou.

Maria en Elizabeth se ontmoeting is ook iets spesiaals.  Hierdie 2 onbekende en onbelangrike vroue speel ‘n sentrale rol in die Verlosser se koms na die wêreld.  Wanneer Maria in Elizabeth se huis instap gebeur daar ‘n verdere wonder.  Sy word met die Gees vervul en sy verklaar dat Maria se Seun die lang verwagte Redder van die wêreld is.  Sy raak die eerste prediker wat verkondig wie hierdie Seun werklik is.  Ook haar ongebore seun reageer met verwondering.  Hy sal na sy geboorte die voorloper of aankondiger van wie Jesus is, word.  Selfs hier in die baarmoeder bokspring Johannes reeds wanneer hy in die teenwoordigheid van die ongebore Seun van God is. 

Haar loflied gaan dan oor die geseëndheid van hierdie ma en Seun.  Maria sal altyd as ‘n geseënde vrou geag word.  Die vrug van haar skoot is die wonder waarop die wêreld al vir so lank wag.  Alhoewel Lukas se beskrywing oor die 2 vroue in die verhaal handel, is sy hooftema teologies van aard.  Albei is vir ‘n doel deur God gekies en albei het vir Hom ja gesê.  Hul gewilligheid en geloof maak hulle geseëndes.  Hulle glo in die beloftes van God.  Dis hulle geloof wat vir ons ‘n model word.  Maria was nie ‘n passiewe instrument in God se hand nie.  Sy was ‘n gewillige meewerker, wat ja gesê het vir wat Hy van haar gevra het.  Elizabeth is ook nie jaloers oor haar en haar seun se rol in die verhaal nie.  So moet ons ook maak.  Ons plek ken, ja sê vir wat God van ons vra en gelowig en gewillig saam met Hom stap.