Teks: 1 Samuel 2:18-21
Liedere: 213:1,2 286:1 478:1,2,4
Die seun Samuel groei op in die teenwoordigheid van die Here. Hy het in ‘n huis groot geword waar sy ma die Here baie lief gehad het en hierdie liefde vir die Here aan hom oorgedra het. Toe die bestemde tyd aanbreek het sy hom vir diens aan die Here, soos wat sy tydens haar intense gebed vroeër beloop het, na die tempel gebring. Jaarliks gaan sy tempel toe en bring dan vir hom ‘n nuwe kleed as geskenk. Hier in die tempel leer Samuel die Here op ‘n intense manier ken. Hy dien die Here met oorgawe. Ons leer ken in hierdie gedeelte ‘n ma wat geheel en al aan die Here toegewyd is. Ons sien ook wat die effek van haar toewyding op haar jong seun is.
Aan die ander kant leer ons ook vir Eli, die priester in die tempel, ken. Alhoewel hy die een is wat juis die teenwoordigheid van die Here behoort te beleef en dit aan sy seuns moes oordra sodat hulle die taak waarmee hy besig by hom sou oorneem. Ongelukkig sien ons nie dieselfde toewyding van hulle kant af nie. Hulle doen alles wat verkeerd is en lei die volk van die Here op ‘n heeltemal verkeerde pad. Dit raak later so erg dat die Here Sy oordeel oor hulle aankondig en vir Eli inlig dat Hy hulle met die dood gaan straf.
Ons sien hoe ‘n regte verhouding met die Here lyk en wat die gevolge daarvan in ‘n persoon en ook op haar seun kan wees. Ongelukkig sien ons ook die tragiese gevolge wat vir iemand wag wat nie erns met hul verhouding met die Here maak nie. Ons word geroep om energiek, aktief en effektief in ons navolging van die Here te wees. As ons so ‘n toegewyde lewe leef, sal ons ook soos Samuel in guns by God en by die mense toeneem. Dit gaan nie daaroor dat ons in mense se oë gewild wil probeer wees nie. Ons het die Here lief en ons doen wat die Here van ons vra. Die gevolg van so ‘n lewe toegewyd aan die Here is dan dat ons Sy liefde teenoor die mense rondom ons vertoon en uitleef. Hulle sien en beleef iets in ons wat anders is, wat gedryf word deur ons liefde vir die Here. So neem gelowiges dan in guns by hulle toe. So leef ons as ligdraers van die Een wat vir ons as Redder na die wêreld gekom het, ons kom vry maak het en vir ons die voorbeeld kom stel het van hoe ons toegewyde lewe aan Hom en Sy Vader moet lyk. Ons is wedergebore in die Here. Kom ons wys dit.