Teks: Matteus 28:1-10
Liedere: 409:1,2,3 407:1,2 417:1,2 422:1,2,3
Na die lang, uitgebreide beskrywing van die lyding van Jesus in Matteus, ‘n hele 141 verse lank, word Jesus se opstanding en wat daarna gebeur in slegs 3 perikope, van 20 verse, beskryf. Die eerste 10 verse fokus op die opstanding en die vroue se getuienis daarvan. Die volgende 5 verse sê vir ons dat die Joodse leiers met die Romeine soldate gekonkel het om te lieg oor die opstanding van Jesus. Laastens gebruik Matteus die laaste 5 verse om Jesus se laaste groot opdrag aan Sy dissipels te beskryf.
Wanneer die vroue met die reukolie by die graf opdaag, met die doel om ‘n liggaam daar te vind wat hulle sou salf, vind hulle manne daar wat vir hulle vra: Waarom soek julle die Lewende by die dooies? Hy is nie hier nie. Hy is uit die dood opgewek (Lukas 24:5,6). Die vroue soek dus na iets wat nie bestaan nie. En alhoewel dit hulle dalk verder sou kon ontstel omdat hulle nie die liggaam kon opspoor nie, ontvang hulle wonderlike nuus. Jesus leef. Die graf is leeg!
Die vroue is nou die eerste getuies van wat hier gebeur het. Hulle gaan terug na die ander gelowiges om aan hulle te vertel wat hulle gehoor en gesien het. Eers glo die mense hulle nie. Hoe kan dit tog wees? Maar dan gaan Petrus tog na die graf toe en vind alles soos wat hulle gesê het. Hy roep gevolglik in geloof uit: My Here leef!
Wanneer ‘n mens die verhaal van die opstanding van Jesus hoor, moet jy altyd kies wat jy daarmee gaan doen. Jy kan of in ongeloof daarop reageer, of soos die Joodse leiers doelbewus probeer om ander te bedrieg oor die waarheid daarvan of jy kan soos die vroue en soos Petrus die waarheid aanvaar en dit met die res van die wêreld deel. ‘n Ontmoeting met die Lewende Here is ‘n lewensveranderende gebeurtenis. Kyk ook net na die pragtige gebed van Paulus in Efesiërs 3:1-21. God vul ons met krag, geloof, liefde, insig en Sy volheid. En dan moet ons daarna anders leef. Paulus bid vir die gemeente, dat hulle dit sal beleef en dit sal uitleef. Ons moet ook so leef, want ons Verlosser Leef!!