Teks: Openbaring 21:1-8
Liedere: 214:1,2,3 417:1,2 423:1,2 155:1,2,3
Nadat Jesus uit die dood uit opgestaan het, het alles verander. Dit waarmee God nog altyd besig was, die herstel van mense wat van Hom af weg gekeer het, word nou finaal in Jesus gedoen. Reg deur die Bybel leer ons God ken as die God wat in verhouding met mense wil staan. ‘n God wat wil sien dat mense nie verlore sal gaan nie, maar Sy seëninge sal beleef.
Elke keer as die mense teen God sondig en die gevolg straf van die kant van God is, word daar ‘n belofte van herstel gemaak. Dink maar net aan die beloftes van herstel wat deur Jesaja in die tyd van ballingskap aan die Jode gemaak word. God gaan iets nuuts skep, groter en beter as wat die Jode in verlede geken het of wat hulle hulself sou kon voorstel.
Dink maar net aan Jona. Jona kry die opdrag van God om die mense van Nineve te gaan waarsku. God sien al hul onregte raak en kondig hulle vernietiging aan… behalwe as hulle tot inkeer kom en weer na Hom toe terug draai. Jona is so ontsteld hieroor dat hy besluit om heeltemal in ‘n ander rigting te vlug. Die ontsteltenis is nie oor die harde boodskap wat hy aan hulle moet oordra nie, maar eerder omdat hy God se hart ken. Jona wil hê dat hulle vernietig moet word, sonder enige moontlike kans om gered te word. Omdat hy God se hart ken, weet hy dat hierdie mense tog ‘n kans staan om die vernietiging vry te spring, as hulle hul tot God bekeer. Dis hoe God nog altyd werk. Hy wil eerder seën as straf. As Hy nie anders kan nie en wel moet straf, word die straf gebruik om mense tot inkeer te bring, sodat Hy hulle kan herstel en hulle weer onder Sy genade kan lewe. Met Jesus se kruisiging en opstanding vind die finale herstel nou plaas. Ons word finaal deur Hom gered. Hy sterf in ons plek. En nou kan ons met groot verwagting uitsien na Sy wederkoms. Ons word geroep om in groot dankbaarheid vanuit hierdie oorwinning te leef. Doen dit met oortuiging.