Preekskets 15 Junie 2025 Ds Jacques – Hy het ons die reg gegee om kinders van God te word.


Teks:  Johannes 1:1-18

Liedere:  198: 1,2,3  309:1,2,3  334:1,2,3,4

Jesus Christus is die Wooord van God, die Logos.  Uit Hom is alles geskape.  Hy is nie net bloot goddelik nie, Hy is self God.  Deur Hom het alles tot stand gekom.  By die skepping van alles wat Hy daar en deel van alles wat daar gebeur het.

Hy is ook die Lig vir die wêreld.  Met Sy koms na die wêreld, bring Hy die lewenslig na Sy skepping.  Deur die sondeval het die wêreld ‘n duister plek geraak.  Met die koms van Sy Seun na die wêreld, word daar so kontak tussen ons en God gemaak, maar van Sy kant en op Sy voorwaardes.  Die doel van Johannes se evangelie is nou om die Lig aan die wêreld bekend te stel, sodat hierdie duister wêreld die geleentheid kan kry om in Hom te glo.

Die duisternis en ongeloof van mense is ‘n realiteit.  Die duisternis stel ongelukkig nie belang daarin om Jesus te erken nie.  Jesus se koms na Sy wêreld word deur hierdie gesindheid van die duisternis bederf.  Tog is dit so wonderlik dat dit nie vir God keer om Sy skepping deur Sy Seun se koms te kom verlig en te verander nie.  Dis wonderlik dat daar heelheid vir die mens is deur Jesus se waarheid en genade.  Die waarheid word deur ‘n verhouding met Jesus beleef.  Dis iets wat die Jode se wet nooit by magte was om te doen nie.  Die vreugde van kindskap is wat deur gelowiges beleef word.  Daar is wonderlike vreugde in kindskap.  Elke teken van Sy genadige wil vir ons wys dat dit deur en deur die moeite werd is om op Hom te vertrou.  Elke belofte van Hom, hoe groot of klein ook al, word waar.  Deur Hom is daar vir ons lig en lewe.  Hierdie lewe en lig kan op geen ander manier beleef word nie.  En dit so wonderlik dat ons nou reeds, in hierdie wêreld, hierdie heerlikheid van ons Vader kan beleef.  Hy wil ons Vader wees.  Vertrou Hom.  Leef in die heerlike verhouding met Hom, wat Hy nog altyd ingedagte gehad het en deur Sy Seun se koms moontlik gemaak het.