Preekskets 22 Junie 2025 Ds Jacques – Die Ware Koning Leef!!


Teks:  Jesaja 6:1-13

Liedere:  165:1,2  179:1,2,3  184:1,3,4

Die wêreld is al oor die jare diep geraak deur die afsterwe van belangrike mense, hetsy dit ‘n minister, staatspresident of ‘n koninklike is.  Aan die een kant is ons harte met groot hartseer gevul weens die persoon se afsterwe.  Aan die ander kant is al hierdie persone tog ook mense wie ons glad nie persoonlik ken of heel moontlik nog nooit persoon ontmoet het nie.  Waarom sal hierdie persone se afsterwe ons dan so diep raak? 

Gewoonlik assosieer ons onsself met hierdie persoon se visie en droom vir die toekoms.  Mense sien die resultate van die persoon se optrede raak en dan raak ons opgewonde daaroor.  Ons raak lief vir hierdie leiers.  Wanneer die persoon dan sterf, sterf die droom saam met hom of haar.

So 700 jaar voor die geboorte van Jesus sterf ‘n koning in Israel.  Koning Ussia was ‘n wonderlike koning en ‘n groot vriend van Jesaja.  Jesaja se hart is gebroke.  Hy gaan dan na die tempel om by God vir troos te vra.  Terwyl hy hier is, word hy deur God aangeraak en vir ‘n doel geroep.  In die visie wat hy beleef, word sy lippe met ‘n kool deur ‘n engel aangeraak.  Dan ontvang hy die opdrag om met die volk te gaan gesels.  Hy het eers self die veranderde krag van God se aanraking beleef.  Nadat hy so deur God aangeraak en sy hart so genees word, herinner God hom daaraan dat Israel dalk wel hul koning verloor het, maar dat hulle steeds op hul hemelse Koning kan reken.  God is altyd daar vir hulle.  Hy is hulle ewige koning.  Jesaja kon by sy hartseer en verlies bly vassteek en dan vir baie lank moedeloos gebly het, of hy kon God toelaat om Hom te verander en vir sy roeping voor te berei.  Hy erken God as sy Koning en bied homself as die gestuurde vir God aan.  God bly ewig in beheer.  Ons aanbid ‘n God wat nie deur die dood gebind word nie, nie eens wanneer Sy eie Seun 700 jaar later aan ‘n kruis sou sterf nie.  Ook vandag wil Hy ons leer om nie op prinse te vertrou nie, maar ons vertroue in Hom te plaas.  Die oesland is groot en die oes staan gereed.  Is ons gereed om die oes in te bring?  Ja Here, stuur my.