Preekskets 20 Julie 2025 Ds Jacques – Christus in jou


Teks:  Kolossense 1:15-29

Liedere:  186:1,2  183:1,2  280:1,2,3

Paulus skryf in die eerste plek van homself en Timoteus.  Maar in vers 21 sluit hy ook die res van die lesers by die brief in wanneer hy sê: “Ook julle was voorheen ver van God…”   Wat dis vur hom en Timoteus geld, geld vir elke ander gelowige ook.  Die mag van die duisternis het ‘n houvas op mense.  Die geheimenis wat Paulus nou met die mense deel, is dat God die Een is wat Sy kinders van die mag van die duisternis ontruk het en nou onder die heerskappy van Sy eie Seun geplaas het.  Jy is immers kind van God.  Nadat hy dit gesê het, gaan hy voort om ‘n loflied tot eer van die Here te skryf. 

In hierdie lied of gedig is daar 4 belangrike sake oor die Seun wat hy noem:

  • Deur die Seun het ons verlossing gekry.  So word ons sondes vergewe.
  • Hy is die beeld van God.  Deur Hom word God aan ons bekend gemaak.  Hy is verhewe bo die skepping.  Alles is deur middel van Hom geskep.  Hy was reeds voor alles daar en alles word deur Hom instand gehou.
  • Jesus is die hoof van die kerk.
  • Hy het uit die dood opgestaan en neem daarom die Eerste plek in die heelal in.

Juis hierom mag niks en niemand anders aanbid word nie.  Daarom word die gemeente aangemoedig om vas te staan in die geloof.  Moenie deur verkeerde idees mislei word nie.  Die gevolg van getrouheid aan die Here is egter “lyding en verdrukking”.  Dis was Paulus self ervaar het.  Omdat hy aan die Here getrou gebly het, het hy die teenkanting van ongelowiges ervaar.  Dit het hom eerder aangemoedig om nog harder vir die Here te werk.  Hy sien dit as geleenthede om dinge ter wille van Jesus en dinge namens Jesus te ervaar. Deur hierdie geheimenis wat Paulus verkondig, word mense herskep.  Deur geloof is Christus nou in julle.  In ons is die Here dan besig om Sy werk met ons te voltooi.  En dit is die boodskap wat alle mense moet hoor.  Paulus kon so hard vir die Here werk, want hy het juis met die krag en energie van die Here in Hom gewerk.  En daardie selfde krag is ook vandag in elkeen van ons wat glo.  Deur die Gees oortuig Hy jou dat jy kind van God is.  Ons moet nou tot geestelike volwassenheid in Christus kom.  Die Woord is ons kos.  Neem dit en eet dit, en staan dan vas in die geloof, soos wat die Here van elkeen van ons verwag.