Preekskets 27 Julie 2025 Ds Jacques – Altyd gefokus op Jesus


Teks:  Kolossense 2:6-15

Liedere:  169:1,2,3  508:1,2  280:1,2,3

Hou jou fokus op Jesus, want Hy is al wat jy nodig het.  Wanneer jy Jesus aangeneem het, moet jy ook in verbondenheid met Hom lewe.  Letterlik moet jy saam met Hom wandel.  Solank as wat ons op hierdie pad bly, bly ons uit die gevaar en weg van die dwalings.  Jesus is die Weg, die Waarheid en die Lewe.  As ons dus in verbondenheid met Hom lewe, bly ons natuurlik op die Weg, binne die Waarheid en op pad na die Ware Lewe.  Dan sal jy opreg wees in jou menswees.  Jou gedrag word deur Christus en Sy Gees bepaal.  Jou hele lewe sal ‘n preek vir die wêreld wees.  Dit beteken natuurlik dat ons altyd waaksaam moet wees, sodat ons nie dalk van die pad af dwaal, ons eie rigting inslaan en so ons verbondenheid met Jesus verloor nie.

Om ons hiermee te help is dit so belangrik om altyd te onthou wie Jesus is en wie ons geword het in eenheid met Hom.  Hy het ons losgekoop.  Ons was verlore, maar is gevind.  Ons is nuwe mense, bevry van die sonde en straf.  Ons is nou kinders van God wat op die Weg van die Ware Lewe, op pad is na die ewigheid saam met God.  Ons is nie meer slawe van die sonde nie.  Ons is nou kinders, met al die voorregte wat dit vir ons bring.  Om seker te maak dat ons verhouding en verbondenheid met Jesus sterk bly, is dit baie belangrik dat ons eerlik sal wees oor die dinge wat ons van Hom ag weg trek.  Ons moet ook seker maak dat ons onsself besig hou met die dinge wat ons help om in Jesus te groei.  Ons moet met Sy Woord besig wees.  Ons moet in gebed met Hom kommunikeer.  Ons moet daarop ingestel wees om na die stem van die Heilige Gees te luister.  So moet ons seker maak dat ons die heeltyd besig is om in die Waarheid te wandel.  Kom ons maak seker dat ons vasbeslote bly om in die waarheid te lewe.  Kom ons loop met ons hand styf in Jesus s’n, in gebondenheid met Hom.  Die waarheid wat Jesus bring is vir ons ‘n kosbare geskenk.  Bewaar dit met alles in jou.  Lewe volheid vir Hom.