Preekskets 21 September 2025 Ds Hannes Enslin – Die gevolg  van getuienis


Teks:  Matteus 28:16-20

Liedere:  475:1,2  488:1-5

Jesus se laaste opdrag aan Sy dissipels is dat hulle na Sy vertrek moet voortgaan met Sy werk op aarde.  Hulle moet na ongeredde mense gaan en hulle aan die Evangelie blootstel, sodat hulle tot bekering kan kom en ook dissipels van Hom kan word.  Vir almal werk die proses van bekering nie dieselfde nie.  Vir sommige mense vind daar ‘n oombliklike bekering plaas, soos met Paulus op sy Damaskus reis.  Vir ander vat dit egter langer.  Soms is daar meer as een aanhoor van die boodskap nodig.  Soms neem dit maande of selfs jare voordat so ‘n persoon by ‘n totale oorgawe aan Jesus uitkom.

Een so ‘n figuur waarvan ons in die Bybel lees is Nikodemus.  Hy was ‘n skrifgeleerde, ‘n Fariseër en ‘n lid van die Joodse Raad.  Hy was dus deel van die groep wat alles in hul vermoë gedoen het om van Jesus ontslae te raak.  Tog interesseer Jesus as persoon en Jesus se boodskap hom, tot so ‘n mate dat hy in Johannes 3 in die nag na Jesus gaan om met Hom te gaan gesels.  ‘n Mens kan sê dat hy in die geheim na Jesus gaan en verder oor Sy boodskap en bediening wil uitvind.

‘n Rukkie later besluit die Joodse Raad om ‘n plan te bedink om van Jesus ontslae te raak.  In hierdie gesprek wat in Johannes 7 volg is dit dieselfde Nikodemeus wat die Raad daaraan herinner word dat ‘n man nie sommer skuldig bevind kan word voordat Hy nie eens die kans gegun word om Sy saak voor die Raad te kom stel nie.  Hoewel Nikodemeus nog nie gereed is om sy geloof in Jesus voor mense te verklaar nie, het sy belangstelling in Jesus nou al so gegroei en ontwikkel dat hy bereid is om in die openbaar ‘n standpunt vir Jesus teen sy Raadslede in te neem.

Dan lees ons weer in Johannes 19 van Nikodemeus.  Hier word genoem dat dit dieselfde man was wat op ‘n keer in die nag na Jesus toe gekom het wat nou ‘n mengsel van 50 liter mirre en aalwyn vir die voorbereiding van Jesus se liggaam vir Sy begrafnis bring.  Hierdie man se vertroue in Jesus het nou al so geword dat hy in die openbaar ‘n waardevolle klomp speserye vir Sy begrafnis skenk en selfs deelneem aan die hele proses.  Dit is wat die impak van die Evangelie op mense se lewens het.  Soms gebeur dit oomblik, ander kere mag dit ‘n lang ruk neem.  Die les is egter as ‘n mens oop is om na Jesus te luister is Hy altyd gereed om die verandering in ‘n mens se hart te bewerk.