Preekskets 12 Oktober 2025 Ds Jacques – Desperaat vir hulp


Teks:  2 Konings 5:1-27

Liedere:  164:1,2  265:1,2  499:1,2,3

Daar is baie mense wat desperaat vir hulp is as gevolg van die pyn waarin hulle verkeer.  Hulle sukkel om deur elke dag te kom.  Hulle voel uitgeput en gebroke as gevolg van hul omstandighede.

Naäman was ‘n groot en magtige man.  Hy was die bevelvoerder van die Aramese leër.  Hy was ‘n dapper man en baie suksesvol as soldaat.  Hy was ‘n man van groot aansien.  Hy was selfs deur die koning in wie se diens hy gestaan het, hoog geag.  Baie interessant sien ons in die teks dat God hom suksesvol gemaak het en gebruik het om oorwinnings vir Aram te behaal.  God het natuurlik ‘n groter plan met sy lewe gehad.

“Maar” is ‘n klein woordjie wat alles verander – Ten spyte van al sy suksesse, was hy melaats.  Die gevolge van hierdie siekte was skrikwekkend.  Hy het fisiese pyn beleef, hy is sosiaal geïsoleer, hy is van sy godsdienstige rituele uitgesluit en daar het ‘n stigma aan hom gekleef.

Mense wat deur so ‘n krisis gaan raak vermoeid en gefrustreerd.  Dit beproef jou geloof.  Jy voel geïsoleerd en alleen.  En dan neem angs en depressie oor.  Het God van my vergeet?  Waarom beantwoord Hy nie my gebede nie?  Gaan ek ooit weer gesond raak?

Naäman het ‘n slavin wat in sy huis vir sy vrou werk.  Sy was ‘n jong meisie wat van Israel af gekom het.  Eendag sê sy vir haar meesters, as meneer tog net by die profeet Elisa in Israel kan uitkom, is ek seker daarvan dat hy weer gesond sal word.  Naäman is so desperaat dat hy bereid is om na die stem van die jong meisie te luister.  Met ‘n brief van sy koning gaan soek hy vir hulp.

Eers is die koning van Israel baie ontsteld en sien dit as ‘n lokval om Israel in ‘n oorlog te betrek, maar dan laat weet Elisa dat Naäman na hom toe moet kom.  Hy sal help.  ‘n Onkonvensionele voorstel word gemaak:  Gaan was jouself 7 maal in die Jordaan rivier.  Naäman vererg hom en wil dit nie doen nie, maar word tog deur sy raadgewers omgepraat.  Dan gebeur die wonder.  Hy raak gesond.

Na ‘n innerlike stryd, waar hy eers nie wou luister nie, doen hy tog wat gevra word en verklaar hy sy geloof in die Here.  Hy wil selfs grond van Israel saam neem om vir die Here ‘n altaar in sy eie land te gaan bou sodat hy alle eer aan Hom kan gee. Ons leer vandag dat ons ook soms so ‘n innerlike stryd weens ons omstandighede beleef.  Soek Sy teenwoordigheid, wees eerlik oor jou pyn, glo dat Hy kan genees, wees gewillig om te verander.  Sy helende aanraking is ‘n lewende werklikheid vir elkeen wat na Hom uitroep.  Heling kom deur te doen wat Hy vra.