Teks: 1 Petrus 2:5 en 9-12
Liedere: Flam 34:1,2 Loof die Here, Geseën om te seën, 308:1-5
Die reformasie was een van die heel belangrikste gebeurtenisse in die geskiedenis van die Christelike kerk. Nie net is die kerk hierdeur verander nie, maar die mens se hele verstaan van geloof, die Bybel en God se betrokkenheid by ‘n gelowige se lewe, is hierna heeltemal anders beleef en gesien. Baie dinge in die kerk was nie in lyn met die Bybel nie en dit was absoluut noodsaaklik om dit reg te stel.
‘n Terugkeer na die Bybel het plaasgevind. Die Bybel word as die heel hoogste gesag vir die kerk en vir alle gelowiges geplaas. Die tradisie en die kerklike mag word nie verder as die belangrikste gesien nie. Daarom moet die kerk se leer en praktyke in lyn met God se Woord gebring word. Die sterk klem op kerklike rituele en goeie werke is verskuif na waar dit moes wees, natuurlik na verlossing deur Jesus Christus alleen en God se genade alleen. God se genade is vir ons genoeg.
Alles wat in die kerk gebeur en waarmee gelowiges hulself besig hou, moet tot eer van God geskied. Alles wat die kerk doen: Aanbidding, dienswerk, die lewe, moet tot eer van God geskied. Daarom moet die kerk voortdurend besig wees om te hervorm of te vernuwe, nie met die bedoeling dat daar die hele tyd nuwe dinge in die kerk moet gebeur nie, maar eerder om seker te maak dat die kerk met die regte dinge besig is wat werklik tot eer van God gebeur. Daarom moet gelowiges God se Woord lees, dit leer en dit toepas in hul lewens. Gelowiges moet na hul persoonlike geestelike lewe omsien en verantwoordelikheid neem vir hule geestelike groei. Vandag het ons ook die voorreg om te sien hoe gelowige jongmense voor die gemeente bely dat hulle aan God behoort en vir Hom wil leef. God het hulle eerste geroep en hulle reageer deur te erken dat hulle in Hom glo en vir die res van hul lewe vir Hom sal lewe. Belydenisaflegging is nie die einde van die geloofsbestemming nie, maar eerder die begin van ‘n nuwe hoofstuk in jou geestelike reis saam met die Here. Julle raak deel van ‘n geloofsfamilie, wat saam met julle groei en saam met julle die Here dien. Ons leer by mekaar, ons ondersteun mekaar, ons bid vir mekaar. Saam skyn ons lig en saam versprei ons die aangename geur van Jesus se genade. So verkondig ons die hoop wat net God alleen vir ons bied en maak ons seker dat alles wat ons doen tot eer van God geskied.