Preekskets 4 Oktober 2026 Ds Jacques – Keer om en lewe


Teks:  Esegiël 18:25-32

Liedere: 164:1,2  271:1,2   273:1,2

Daar is min dinge wat so gevaarlik is soos die gedagte dat ek nie kan verander nie.  Die gedagte dat ek maar so gemaak en so gelaat staan is, is baie gevaarlik.  God is nie in my verskonings geïntresseerd nie.  Hy kyk na wie jy nou is, maar Hy is nie noodwendig tevrede met wie jy nou is nie.  Hy roep jou om die mens te word wat Hy weet jy kan wees.  Hy sien jou potensiaal raak.  En as jy dan reageer deur te sê dat jy maar is soos wat jy is en dat jy nie kan verander nie, sê jy daarmee dat jy nie oop is vir die Gees se kragtige werking in jou lewe nie. 

In die teks verkwalik die volk vir God vir die omstandighede waarin hulle hulsef bevind.  Hulle sê dat die Here dinge in hul verlede toegelaat en laat gebeur het.  Gevolglik het hul ouers sekere keuses gemaak en nou bevind hulle hulself in die situasie waarin hulle tans is.  Dit is dus die Here se skuld dat hulle is soos wat hulle is.  Die Here reageer egter deur vir hulle te vra of dit werklik Sy wil is wat verkeerd is, of lê die fout nie eerder by hulle nie?  Is dit nie dalk hulle wat hulself op verkeerde weë bevind nie en nou allerhande verskonings soek om nie te wil verander nie.  Dis ons ouers se skuld.  Dis God se skuld.  Ons is maar net produkte of slagoffers van ons verlede.

God sê egter dat Hy nie behae daarin vind om die mense se ondergang te aanskou nie.  Soos wat hulle tans leef is hulle ongelukkig oppad na ondergang.  En as hulle daarop gewys word is hulle reaksie dat hulle eintlik nie iets daarin kan doen nie.  Dis nie hul skuld dat dinge tans gaan soos wat dit gaan nie. 

Die Here vra dat hulle sal omkeer, terug draai.  Erken dat jy op ‘n verkeerde pad is.  Besef dat jy iets daaraan kan doen.  Bely dat jy op ‘n ander pad wil wees.  Moenie jou sonde koester nie.  Moenie jou rug op God draai nie.  Moenie tevrede bly met hoe dinge tans is nie.  God vra dan:  Waarom hou julle aan met hierdie pad?  Waarom wil julle sterf? God se uitnodiging is:  Bekeer julle en lewe!  God wil nie ons ondergang sien nie.  God staan nie net gereed om te straf nie.  God begeer vir ons ‘n toekoms en ware lewe.  Draai om.  Kies lewe.  Bly dan daarna naby God.