Teks: Filippense 4:1-9
Liedere: 205:1,2,3 155:1,2,3 212:1,2,3
Die lewe is nie altyd maklik nie. Daar kom tye in ‘n mens se lewe waar dit vir jou voel of alles net te veel word om te hanteer. Soms is dit groot dinge wat jou hele lewe omkeer en ander kere is dit ‘n hele klomp klein dingetjies wat net opbou en te veel word. Ons almal ken die gevoel wanneer jy in die aand in die bed klim en net nie aan die slaap kan raak nie. Daar waar jy lê en worstel met dinge wat jou net aanhou pla. Hoe kan ek in sulke omstandighede steeds vrede in my hart beleef?
Paulus sê in Filippense 4 dat gelowiges ook uitdagings beleef. Hy maak nie die belofte dat alles altyd net lekker en goed met jou sal gaan omdat jy ‘n gelowige is nie. Gelowiges beleef ook teleurstellings en hartseer. Hy wys eerder vir ons na iets baie beters. Hy sê vir ons dat God getrou is en teenwoordig is in ons omstandighede. Daarom is Hy die een wat vir ware vrede in ons harte verantwoordelik is.
Daarom dat hy vir die gelowiges kan skryf dat hulle moet vas staan, want hulle hou aan die Here vas. Dit is baie belangrik om te hoor wat hy sê. Hy sê nie dat ons self net al harder moet probeer om ons omstandighede te hanteer nie. Nee, dis nie ons wat al vaster moet staan nie. Ons moet al vaster in die Here staan. Ons maak nie op ons eie kragte staat nie. As ons dit self probeer gaan ons gou agter kom dat daar dae is wat die lewe net vir ons te veel raak en ons kragte net nie genoeg is om alles wat met ons gebeur te hanteer nie. Dan gaan dit vir ons voel of ons nie eens genoeg moed het om die volgende tree te neem nie. Maar ons geloof berus nie in ons nie, eerder in die Een in wie ons ons vertroue plaas. Dit berus in God wat getrou is.
Dink aan ‘n boom wat in ‘n storm staan. Die wind ruk aan die takke en blare. Van die takke kan selfs afgebreek word. Wanneer die storm verbly is, bly die boom steeds sterk staan. Nuwe groei vind plaas. Hoekom? Want die boom se wortel is diep en sterk geanker in die grond. So werk dit met ons geloof. Kies vreugde, vrede en vertroue in die Here al lyk alles nie vir ons tans soos ons dit wil hê nie. Bring jou bekommernis na die Here. Waak oor jou gedagtes. Bly gerig op die Here. Dan sal God se vrede sigbaar word op die manier waarop jy lewe.