Teks: Matteus 5:21-48
Liedere: 191:1,2,3 209:1 504:1,5
Hoe belangrik is die wet vir Jesus? Sy dissipels het self hierdie vraag gevra, veral nadat Hy so uitgesproke geraak het oor die Fariseërs en Skrifgeleerdes. Die afleiding is gou gemaak dat Jesus so uitgesproke oor hulle is omdat Hy nie dink die wet is meer van belang nie. Hy spreek hulle dus aan omdat hulle op verkeerde dinge klem lê.
Maar dan korrigeer Jesus Sy dissipels. Eerstens stel Hy dit aan hulle dat die wet nog steeds vir God baie belangrik is. Hy gaan so ver as om te sê niemand enige reël van die wet of selfs net ‘n letter van die wet mag verander nie, want dan sal hy of sy in groot moeilikheid by God wees. Daarom sê Hy vir Sy dissipels en volgelinge dat hulle nie na die Skrifgeleerdes se lewe moet kyk, maar ‘n baie meer toegewyde lewe moet leef.
Nou is die aanhoorders verward. Die Skrifgeleerdes is volgens hulle van die mees toegewyde godsdienstige mense wat jy kan kry. Hoe is dit moontlik dat hulle nou kan sê hulle doen nie goed genoeg nie. Sy volgelinge moet selfs nog beter doen. Dan volg hierdie paar perikope in die bergpredikasie waarin Jesus vir hulle verduidelik wat Hy hiermee bedoel.
Jesus leer ons dat ‘n mens nie net na die wet se woorde moet kyk nie, maar dat jy ook na die bedoeling van die wet moet kyk. As ‘n mens net na die woorde kyk is die wet ‘n dooie stuk dokument met voorskrifte van wat jy mag en wat jy nie mag doen nie. So het die Skrifgeleerdes met die wet omgegaan, daaroor gedink en dit beredeneer. Op die vlak ontbreek die verhouding wat ‘n mens veronderstel is om met God te hê. Daarom moet Jesus se volgende na die gees van die wet soek.
Dan beteken dit dat indien jy net daaroor dink om ‘n wet te oortree, jy dit reeds in God se oë gedoen het. Die Skrifgeleerdes kyk na die dade van mense en besluit aan die hand daarvan wie skuldig en wie onskuldig is. God kyk na die mense se harte, waaroor dink hulle, wat beplan hulle, wat gaan in hulle harte aan? En dit maak die wet ‘n baie persoonlike hulpmiddel. Die verhouding wat ek met God het bepaal nou my oortuigings, optredes en gedrag. Daarom dat Jesus kan sê dat Hy baie meer toewyding van Sy volgelinge vra as wat die Skrifgeleerdes doen. Wees daarom heilige soos wat God heilig is.