Preekskets 1 November 2026 Ds Jacques – Die helde-akker van die Here


Teks:  2 Timoteus 1:16-18

Liedere:  513:1,2,3524:1,2,3

Kom ons wees eerlik.  Almal van ons hou daarvan om ‘n prys te ontvang, te wen, erken te word vir wat ons regkry.  Die top studente of sportmanne en vroue se name word op ‘n ererol of erebord aangebring.  Dis darem regtig lekker as jy in ‘n saal instap en jou naam daar op die bord sien of as jy op die verhoog geroep word om ‘n trofee, medalje of sertifikaat te ontvang. 

Wie was Onesiforus?  Ek wonder hoeveel mense het al ooit sy naam gehoor.  Ek wonder hoeveel mense weet dat sy naam in die Bybel geskryf staan.  Alhoewel hy nie onder gewone mense bekend is nie, was hy ‘n besonderse vriend van Paulus.  As ‘n mens sien wat hy alles vir Paulus gedoen en vir hom beteken het, is dit eintlik jammer dat so min mense van hom en wat hy gedoen het, weet. 

Ongelukkig werk dit vandag nog in ons wêreld so.  Baie keer word daar nie erkenning aan die mense gegee wat die grootste invloed op ander mense se lewens maak nie, want hulle name word nooit op ‘n ererol saam met groot presteerders geplaas.  Ons sal nie sommer iemand se naam op ‘n bord plaas en dan langsaans skryf dat hierdie persoon die vriendelikste persoon is wat ons ken of wat die graagste iemand anders help nie.  Maar Paulus onthou sy vriend en God weet ook wat hy gedoen het. 

Ons leer uit sy lewe dat ‘n mens nie noodwendig ‘n uitsonderlike gawe of talent hoef te hê om iets besonders te kan doen nie.  God doen die meeste van Sy werk deur doodgewone mense wat elke dag besig is om Sy liefde teenoor ander mense te deel.  En vir ons is dit so lekker om te weet dat God alles wat ons doen raaksien, selfs al sien geen enkel ander mens raak wat ons doen of ontvang ons nooit enige erkenning vir wat ons gedoen het nie. 

Soms is die mooiste of kosbaarste dinge wat ons doen, juis die dinge wat niemand anders raak sien nie, net jy en die persoon wat jy help weet wat jy gedoen het.  So hoe kan ons so leef om ook ‘n invloed soos Onesiforus te maak?  Sien die mense raak wat ander miskyk.  Gebruik jou woorde om mense op te bou.  Doen die regte ding, selfs wanneer niemand kyk nie en jy heeltemal alleen is.  Wees bereid om te vergewe.  Gebruik jou talente om te dien.  Onthou, in die hemel word ons name opgeskryf omdat ons kinders van die Here is en deur Hom vergewe is.  Ons hoef nie werke te doen om ons name op hierdie bord te kry nie, maar wat ons wel vir onsself moet afvra is:  Wat gaan langs my naam staan wanneer ek aan die einde van my lewe kom?  Onthou God sien alles raak, ook daardie dinge waarvan niemand anders weet nie.