Teks: Eksodus 4:1-17
Liedere: 146:1,4,6 268:1 Flam 22
Wanneer jongmense op die punt staan om die volwasse lewe te betree, wag daar nuwe geleenthede, groter verantwoordelikheid, belangrike keuses en ook allerlei uitdagings op hulle. Soms voel jongmense baie opgewonde oor hierdie nuwe fase, ander voel weer onseker oor wat op hulle wag. As gelowiges weet ons egter een ding: Ons hoef hierdie pad nooit alleen te loop nie. Wat ook al op ons wag, die Here is reg langs ons.
Die Here loop egter nie net saam met ons nie, Hy roep ons ook om op hierdie pad ‘n getuie vir Hom te wees. Daarvoor rus Hy ons toe en gebruik Hy ons gawes. In vandag se teksgedeelte sien ons hoe die Here vir Moses vir ‘n baie belangrike taak roep. Hy moet terug gaan Egipte toe om God se volk te gaan bevry en na ‘n beloofte land te lei. Moses voel glad nie opgewasse vir die taak nie. Die Here vra nie vir Moses dat Hy Hom eers moet oortuig van sy vaardighede en bekwaamhede nie. Al wat die Here vra is dat Moses homself tot God se beskikking stel en God vertrou.
Die Here begin deur vir Moses ‘n eenvoudig vraag te vra: Wat het jy in jou hand? Moses het ‘n eenvoudige herderstaf in sy hand. Wanneer hy in gehoorsaamheid die staf op die grond gooi, verander dit in ‘n slang, nie omdat dit ‘n besonderse staf is of omdat Moses oor bonatuurlike gawes beskik nie. Nee, net omdat die Here betrokke is. Die Here roep ‘n doodgewone mens om ‘n doodgewone voorwerp op die grond te gooi, maar wanneer die Here betrokke raak, word die doodgewone buitengewoon.
Die Here vra nie vir Moses wat hy in sy hand het omdat die Here nie die antwoord weet nie. Hy weet immers alles. Hy maak vir Moses bewus van wat hy het en wil hê dat Moses dit tot die Here se beskikking stel. Moses sien die doodgewone dan in die buitengewone verander. So werk die Here ook met elkeen van ons. Die vraag word ook aan ons gestel: Wat het jy in jou hand? Wat is daar in jou lewe wat dalk doodgewoon lyk, maar as die Here daarmee besig raak, word dit iets buitengewoons in Sy hand. Die vraag is dus nie net wat ek het nie, maar veel eerder of ek bereid is om dit wat ek het, tot God se beskikking sal stel? Vertrou ek Hom genoeg om te glo dat Hy met my doodgewone iets buitengewoons kan doen? Ek mag ook vol verskonings wees soos Moses, maar verskonings gaan my nêrens bring nie. God wil en kan deur my werk. Is ek bereid? Onthou die Here is altyd aan jou sy.