Wanneer ons in detail vrees, gee God vir ons ’n tasbare hoop. (Amos 9:11-15)
Ons hoop vaagweg, maar ons vrees in detail. Wanneer ons bang of bekommerd is, skep ons brein vinnig ’n gedetailleerde prentjie waarin ons altyd die ergste verwag.
Ons kan ons vrese nogal baie presies inkleur: die presiese syfers van die bankrekening wat daal of dalk die presiese woorde van die dokter se slegte nuus. Vrees is nie vaag nie; ons loop met ’n vergrootglas om elke detail raak te sien en dit dienooreenkomstig te beskryf.
Ons hoop, aan die ander kant, is dikwels vaag. Mens hoor so gereeld: “Mag dinge beter word” of “God sal voorsien” maar dis eintlik net woorde om tog net positief te bly.
Israel was op so hooplose plek in die tyd van Amos 9. Amos skryf dat die koningshuis van Dawid soos ‘n vervalle hut lê.
Amos het byna 9 hoofstukke lank vir hulle die besonderhede van hul vrese geskets – die hongersnood, die verwoesting. Hul vrees het name en gesigte gehad. Maar dan kom die Here aan die einde van Amos met ‘n kosbare boodskap van hoop.
In die laaste verse, breek God deur die donkerte. Die HERE sê: “In dié dag sal Ek die vervalle hut van Dawid weer oprig…”. Hy los hulle nie met ’n vaagweg-hoop nie. God skryf in detail die besonderhede van ʼn tasbare hoop neer wat groter is as hul vrees.
Vrees se detail: Israel het gesien hoe hul sekuriteit in duie stort. Die “vervalle hut van Dawid” (v. 11) is ’n simbool van alles wat eens sterk, stabiel en glorieryk was, maar nou soos ’n murasie lê.
God se gedetailleerde hoop: God sê nie net: “Ek sal julle troos” nie. Kyk na die werkwoorde: “weer opbou”, “barste wat toegestop word”, “murasies word herstel”, “herbou soos in die ou tyd”.
Vers 13 gee vir ons ’n prentjie wat onmoontlik klink: “dat daar direk na die oes geploeg sal word en dat daar direk na die saaityd gepars sal word”. Dit beteken die grond produseer so vinnig en so baie, dat die boere nie tyd het om klaar te oes voordat dit al weer tyd is om te plant nie!
In vers 14-15 lees ons God se finale belofte raak en dit is ons anker vandag: “ Ek sal my volk weer in hulle grond plant, en hulle sal nie weer uitgeruk word uit die grond…”. Daar is ‘n verwagting van herstel in die toekoms.
Toepassing: Hierdie belofte vind sy finale bevestiging in Jesus Christus. Deur Hom is ons ingeënt in die wingerdstok. Niks – geen vrees of bekommernis kan ons uit die hand van die Vader ruk nie (Romeine 8). Ons hoop is nie meer vaag nie; dit het ’n naam, en sy naam is Jesus.
Te midde van alles, kan ons met ware hoop leef, nie net optimisme nie. “Optimisme is wanneer dit lente is daarbuite, en die lente ook binne-in jou gebore word. Hoop is wanneer daar ‘n absolute droogte daarbuite is, maar die fontein in jou binnekant hou aan borrel.”