Preekskets 8 November 2026 Ds Jacques – Wat maak jy met hierdie Jesus wat Homself vir jou gegee het?


Teks: Johannes 6:51-56
Liedere: 305:1,4 245:1,2,3 295:1,3
Daar was daardie dag 3 kruise op Golgota. Jesus het in die middel gehang, met 2
misdadigers wat weerskante van Hom gehang het. Daar word vir ons niks in die
Bybel oor hierdie 2 misdadigers gesê nie. Ons weet nie wat hul oortredings was of
hoe hulle verhore verloop het nie. Al wat ons weet is dat hulle nie onskuldig soos
Jesus aan die kruis gehang het nie. Dit was weens hul wandade dat hulle hul laaste
ure hier gehang het.
Tog sien ons hoe hierdie 2 mans besluit om hul laaste ure of minute op verskillende
maniere te spandeer. Albei weet dat die einde vir hulle baie naby is. Die Romeinse
soldate gaan nie enige genade aan hulle bewys nie. Die eerste misdadiger daag
Jesus uit: As jy dan die Christus is, red jouself en sommer vir ons ook!
Die tweede man reageer heeltemal anders. Eers berispe hy die eerste. Hy sê vir
hom dat hulle verdien om te sterf, maar hy glo dat Jesus heeltemal onskuldig is.
Dan die uitspraak van geloof: Here, dink aan my as U vandag in U koninkryk kom.
Ons sien hier ‘n man wat in diep afhanklikheid na Jesus draai. Hy vertrou sy lewe
aan Jesus toe.
Dan seker die heel mooiste woorde wat hierdie man nog ooit gehoor het: Dit
verseker Ek jou, vandag sal jy jou oë saam met my in die paradys oopmaak!
Johannes 6:51 leer ons dat Jesus die Brood van die lewe is. Hy gee nie vir ons ‘n
stukkie brood om ons honger vir ‘n rukkie te stil nie. Hy gee Homself om ons
geestelike honger volledig te voed. Dis Sy liggaam wat vir ons geoffer word. Dis Sy
bloed wat vir ons gevloei het. Deur Sy offer is ons skuld weggeneem en word ons
nou deur God as Sy kinders aangeneem.
Twee misdadigers het hul laaste oomblikke in Jesus se teenwoordigheid spandeer.
Hulle reageer heeltemal verskillend. Albei het dieselfde kans gehad om hul saak
met Jesus reg te maak. Een kies om Jesus uit te daag. Die ander vertrou sy lewe
aan Jesus toe. Vandag word om steeds met dieselfde keuse gekonfronteer. By die
nagmaal onthou ons wat Jesus vir ons by Golgota gedoen het. Ons kyk binne
onsself en erken dat ons Jesus nodig het. Ons kyk rondom ons en besef dat ons
deur Jesus gebruik word om die gemeenskap om ons aan te raak. Ons kyk
vorentoe met hoop en verwagting. Hy kom weer om ons te kom haal.
Hoe reageer jy as jy met Jesus gekonfronteer word?