Preekskets 31 Augustus 2025 Ds Jacques – Ons het die Messias gekry


Teks: Johannes 1:35-51

Liedere:  100:1-4   116:1-3  33:1  146:1,6

In hierdie teks kry ons die beskrywing van die roeping van die eerste dissipels.   Nie een van die dissipels het noodwending die oggend opgestaan en gedink dat hulle lewe so ‘n radikale wending sou neem nie.  Na die ontmoeting met die Messias sou niks ooit weer vir hulle dieselfde wees nie.  Met ‘n persoonlike ontmoeting met Jesus ervaar en erken hulle Jesus as die Seun van God, die Verlosser, die Messias.  Hierdie eerste ontmoeting met Jesus is vir elke liewe mens van belang.  Elkeen van ons het nodig om erns in ons lewe hierdie ontmoeting met Jesus te hê en dan te verklaar hoe ons oor Hom voel, wie Hy vir ons is. 

Alhoewel so ‘n eerste ontmoeting geweldig belangrik is, beteken dit nog nie dat jy bereid is om enige iets vir Jesus te doen nie.  Jy is nou gered en jy weet in jou hart wie Jesus vir jou is.  Maar soos met hierdie dissipels, stel Jesus ‘n verdere eis aan die dissipels.  Volg my!   Jesus is opsoek na mense wat dan reageer en bereid is om hulself aan Sy diens te wy.  Jesus soek goeie volgelinge van Hom, wat bereid is om Sy werk verder te neem.  In hierdie tyd was dit veral belangrik dat die dissipels bereid sou wees om met die werk voort te gaan, wanneer Hy nie meer daar sou wees nie.  In ons geval word ons nogsteeds geroep om met daardie selfde taak voort te gaan.

Vir baie mense is ‘n voltydse roeping nie altyd moontlik nie, maar ‘n lewenslange roeping is tog moontlik.  So jy is deur die dag besig met jou persoonlike lewe, jou gesinsverpligtinge en beroep.  Saam met dit staan jy ook in diens van die Here.  Hierdie roeping is vir baie mense soms ‘n meer emosionele geleentheid en soms ook moeiliker as met hule bekering.  Elke mens ontmoet Jesus op ‘n unieke manier en tyd in hul lewe.  Elke mens word ook op ‘n unieke manier en vir ‘n unieke opdrag geroep.  Die belange is nie noodwendig hoe dit plaasgevind het nie, maar eerder dat jy daarop reageer, deur vir Jesus in albei gevalle ja te sê.  Ja Here, ek glo in U as my personele Messias en Verlosser.  Ja Here, ek gee myself vir U om in U diens te tree en te werk soos wat U dit van my verwag.  Moenie Sy stem ignoreer as Hy jou roep nie.