Preekskets 5 Julie 2026 Ds Jacques – Die Koning het gekom.  Daarom leef ons met hoop.


Teks:  Sagaria 9:9-17

Liedere:  499:1,2   521:1,2   33:1,5,7

Ons leef in ‘n wêreld waar mense smag na leiers wat vertroue kan inboesem.  Ons verlang na iemand wat vrede kan bring, geregtigheid kan laat geskied en hoop kan gee vir die toekoms.  Toe Sagaria sy profesie uitgespreek het, het Israel hulself in ‘n moeilike situasie bevind.  Hulle het net uit ballingskap teruggekeer.  Die volk was verswak, die tempel was nog nie heeltemal herstel nie.  Hulle was steeds deur vreemdes regeer.  Baie het gewonder:  Waar is God se beloftes?  Wanneer gaan Hy Sy volk red?

In hierdie situasie gee Sagaria ‘n merkwaardige belofte:  Jou Koning kom!  Meer as vyf eeue later ry Jesus op ‘n donkie Jerusalem binne en wys dat Hy die vervulling van hierdie belofte is.  Hierdie gedeelte wys vir ons 3 groot waarhede:

  • Ons Koning is anders as enige aardse koning.
  • Ons Koning bring vrede deur Sy bloed.
  • Ons Koning beskerm Sy volk.

Ons aanbid ‘n nederige Koning.  Hy hoef nie Sy mag te wys nie.  Hy wys Sy liefde.  Hy kom om ons te dien.  Daarom behoort Sy kerk ook bekend te staan as nederig en diensbaar.  Ons rus nie op ons prestasies nie.  Ons leef uit Sy genade.  Ons lewe met hoop.  Die wêreld bied dikwels redes vir moedeloosheid.  Maar ons Koning leef.  Ons wag op die dag wanneer ons Koning weer kom.  Die eerste keer het Hy op ‘n donkie gekom.  Die tweede keer sal ons Hom sien as die oorwinnende Koning wat alles sal nuut maak.

  • Sagaria se profesie begin met die woorde:  Kyk, jou Koning kom na jou toe.  Let op:  Hy kom na jou toe.  Die evangelie gaan nie daaroor dat ons onsself na God toe moet opwerk nie.  Jesus Christus kom na ons toe.  En daarom kan ons vandag leef as mense wat vasstaan in ons geloof, dien in liefde en volhard in geloof.  Omdat ons Koning leef en eendag weer in heerlikheid sal kom.

God se kinders is gevangenis van hoop.  Selfs wanneer omstandighede donker lyk, bly hou ons vas aan God se beloftes.  As Christene behoort ons nie deur wanhoop gekenmerk te word nie.