Preekskets 21 Junie 2026 Ds Jacques – ‘n Vader se roeping in ‘n wêreld wat nie altyd maklik is nie.


Teks:  Matteus 10:16-25

Liedere:  Flam 390   244:1,2  190:1,2,3

Vandag, op vadersdag, dink ons aan ons vaders.  Ons dink aan die mans wat ‘n belangrike rol in ons lewens gespeel het en ons gehelp vorm het:  Ons pa’s, oupa’s stiefpa’s, mentors, elke man wat ‘n invloed op ons lewens gehad het.  Terwyl ons aan vaders dink, bring die Woord ons ook by ‘n dieper waarheid:  die roeping van ‘n vader is nie net om ‘n huis te onderhou nie, maar veral om ‘n geloofsweg te wys. 

Wanneer Jesus in Matteus 10 met Sy dissipels praat, gee Hy ‘n eerlike beeld van die wêreld waarin ons leef.  Hy sê nie: Volg My en alles sal maklik gaan nie.  Hy sê: Ek stuur julle soos skape tussen wolwe in.  Dit is ‘n sterk beeld.  Skape is kwesbaar.  Wolwe is gevaarlik.  Die wêreld waarin Jesus se volgelinge leef is ‘n wêreld vol uitdagings, versoekings en druk.  En dis ook die wêreld waarin vaders vandag hul kinders moet groot maak. 

Daarom is ‘n vader se groot taak om sy kinders vir die werklikheid van hierdie wêreld voor te berei.  Vaders se natuurlike reaksie is om kinders teen alles wat sleg is te beskerm.  Ons wil hê ons kinders moet nooit seer kry, swaar kry of teleurgesteld word nie.  Maar Jesus leer ons anders.  Hy neem nie Sy volgelinge weg uit hierdie wêreld nie, maar stuur hulle juis in hierdie wêreld in.  ‘n Goeie vader leer nie net sy kinders hoe om gemaklik te leef nie; hy leer hulle ook hoe om reg te lewe.  Om eerlik te wees, te vergewe, nederig te bly en op God te vertrou wanneer dinge swaar gaan en onseker is.  ‘n Vader se taak is nie om ‘n wêreld sonder probleme vir sy kinders te skep nie, maar om hulle te help om in geloof deur daardie wêreld te stap. Deur hulle geloof moet hulle ‘n verskil in die wêreld maak en deur sy voorbeeld leer en help hy hulle hoe om dit te doen.  ‘n Vader moet met wysheid en sagtheid optree.  Sterk genoeg om leiding te neem, nederig genoeg om jammer te kan sê.  Ferm genoeg om grense te stel, liefdevol genoeg om genade te bewys.  Uiteindelik wys ‘n vader na die hemelse Vader.  Dis die mooiste voorbeeld van vaderskap.  Daarom is dit so belangrik om te onthou dat ons grootste identiteit en veiligheid te vind is in ons verbintenis aan ons hemelse Vader.  Mag ons aardse vaders se grootste nalatenskap hul geloof in God wees wat hulle aan hul kinders oordra.