Preekskets 13 September 2026 Ds Jacques – Here, wat wil U deur my doen?


Liedere:  Kom loof die Heer, 542:1,2

Teks:  Gal 5:22-23

Het jy al ooit ‘n vrugteboom gesien wat vol vrugte staan?  Dink aan ‘n perskeboom wat so baie groot vrugte aan het dat dit amper lyk asof die takke van die gewig van die vrugte wil breek.  Jy kan al amper proe hoe soet en sappig gaan ‘n perske proe as jy ‘n lekker groot hap van een van die vrugte neem.  Jy staan en bewonder die boom en dan kom die boer aan wie die boord met bome behoort daar verby.  As jy hom dan vra of jy van die vrugte kan kry of selfs van dit kan koop sê hy dat hy nooit die vrugte pluk of iets daarmee doen nie.  Hy snoei elke jaar die bome, hy gee dit water en kunsmis, hy spyt die regte gif op die regte tyd… en dan staan en bewonder hy net elke jaar die pragtige vrugte, maar hy pluk dit nooit nie. 

Enige mens sal onmiddelik dink dat daar groot fout met die boer is.  Om soveel moeite in te sit en soveel geld te spandeer aan vrugtebome wat nooit vir hom enige inkomste inbring nie is regtig net dom.  As jy ‘n paar weke later weer daar verby gaan lê die meeste van die vrugte vrot op die grond en die laaste paar het sommer aan die boom vrot geraak.  Vrugte aan ‘n boom is nie veronderstel om net al groter en mooier aan die boom te raak nie.  Dit is veronderstel om gepluk te word, geëet te word, konfyt kan daarvan gemaak word, dit kan versap word of die vrugte kan ingelê word om later te eet.

Die vrugte is veronderstel om deur iemand anders geniet te word.  So werk dit ook met ons as Christene.  In die teks word ons geleer dat ons die vrug van die Gees moet vertoon.   Ons kan egter nie net ‘n Christelike boom wees wat nooit vir iemand anders iets beteken nie.  Dit werk nie so nie.  Dis juis wanneer ons gepluk en gedruk word dat ons sap deur iemand anders gebruik kan word.  En dis waarvoor ons geroep word.  Ons moet wys wat binne-in ons is.  God wil ons gebruik.  Hy wil hê dat ander mense die aangename geur wat ons in ons het moet beleef.  Natuurlik beteken dit dat ons bereid moet wees om “gepluk” te word, om deur die Here gebruik te word.  ‘n Vrug wat nooit gepluk word nie, het sy doel gemis.  So ‘n vrug het net soveel waarde soos ‘n boom wat geen vrugte dra nie.  Is jy bereik dat die Gees jou toerus en dat jy deur God gebruik kan word ter wille van iemand anders?