Preekskets 6 September 2026 Ds Jacques – Lentesangdiens


Teks: Johannes 15:1-5

Miskien kyk God anders na jou lewe as wat jy daarna kyk.  Jy sien wat kaal is:  Hy ken die lewe wat nog verborge is.  Jy sien wat weggeneem is:  Hy sien waarvoor daar plek gemaak is.  Jy sien net vandag:  Hy versorg ook die vrugte wat nog moet kom.  Met die viering van lente beleef ons die seisoen waarin verborge lewe weer sigbaar word. 

Die eerste beweging van geloof is nie my beweging na God toe nie.  Dit is God se beweging na my toe.  Jesus is die wingerstok en ons is die lote.  Hy is die bron van lewe.  Voordat die loot iets kan doen, ontvang dit reeds lewe uit die wingerdstok.  God is by my.  Ek ontvang.

Hy gee lig.  Hy ontmoet my met genade.  Hy plant hoop.  Hy laat groei wat ek nog nie kan sien nie.

My antwoord:  Ek bly by God.  God se genade kom eerste, maar dit maak my nie passief nie.  Toewyding is nie ‘n enkele groot oomblik waarin ek alles regkry nie.  Dit is ‘n daaglikse beweging waarmee ek my lewe weer en weer na God toe draai. 

Ek bring my toewyding.  Ek bring my geloof.  Ek hou aan om terug te keer.  Ek neem my plek tussen Sy mense in.  Ek bring my lof.

Uiteindelik vloei hierdie twee bewegings, God by my en ek bly by God, in ‘n groot werklikheid:  Ek leef ‘n lewe met God.  Die diepste doel van die loot is nie dat dit indrukwekkend moet lyk nie of oor sy groei moet spog nie.  Sy doel is om deel te wees van die oes waarvoor die Landbouer dit versorg. 

Ek leef onder Sy heerskappy.  Ek word deel van Sy komende seisoen.  Ek ontvang nie net gawes uit Sy hande nie – Ek ontvang God self. Die Wingerdstok is die Bron.  Die loot leef in verbondenheid.  Die oes behoort aan die Landbouer.  Daarom:  “Bly in My, soos Ek in julle”.  Luister.  Ontvang.  Antwoord.  En vertrou die Landbouer vir die oes.