Teks: Jesaja 51:1-6
Liedere: 213:1,2 233:1 499:1,2,3
Daar is tye in ‘n mens se lewe wanneer dit lyk en voel asof alles besig is om uitmekaar te val. Die wêreld om ons lyk verskriklik en soms val dinge in ons eie lewe ook uitmekaar. Dit is juis vir sulke omstandighede dat Jesaja 51 ‘n besonderse kragtige boodskap het: Moenie vergeet waar julle vandaan kom nie. Moenie vergeet wie God is nie. En moenie vergeet dat God steeds ‘n toekoms kan skep nie.
Israel beleef in hierdie tyd ‘n geweldige krisis. Die volk is in Babilon, Jerusalem en die tempel is vernietig. Hulle het hul veiligheid, alles wat bekend is, hul hoop verloor. Vir baie van hulle moes dit gevoel het asof God hulle vergeet het. Niemand sou hulle kwalik neem as hulle vrae sou vra soos: Waar is God? Is daar vir ons ooit ‘n toekoms?
Dan praat die Here met hulle in Jesaja 51. Hy herinner hulle dat hul huidige omstandighede nie die finale hoofstuk van hulle verhaal is nie. God ontken nie die krisis nie. Hy sê nie hulle probleme is nie werklik nie. Hy sê dat hulle probleme nie groter is as sy vermoë om te red nie. Daarom sê Hy: Luister na My! Wanneer mense bang of onseker voel, is dit so maklik om na verkeerde stemme te luister, maar ons gaan nie daar ‘n antwoord kry nie. Een van die heel belangrikste dinge wat ‘n gelowige in ‘n krisis kan doen is om na die stem van die Here te luister.
Hy herinner hulle dat hulle moet terug dink aan die rots waaruit hulle as volk gekap is. Hulle het uit die belofte wat God aan Abraham en Sara gemaak het, twee bejaarde mense wat eintlik geen toekoms verwag het nie ontstaan. Daarom moet hulle ook nie nou net na hul huidige omstandighede kyk nie. Soos wat God toe gemaak het, is Hy nou ook by magte om vir hulle te doen. As God uit Abraham en Sara ‘n volk kon voortbring, kan Hy uit ‘n gebroke situasie iets nuuts voortbring. God kan ‘n woestyn in ‘n pragtige tuin verander. Geen situasie is vir Hom te verlore nie. Die wêreld kan verander, maar God nooit nie. Sy geregtigheid is naby. Luister na Hom. Dink aan die verlede. Sien met verwagting na die toekoms uit. Hoop is om te weet God se beloftes is groter as ons omstandighede. En ons hoef nie die hele toekoms te ken om die eerste tree in geloof te gee nie. Kyk vorentoe en vertrou Hom vir jou toekoms.