Preekskets 23 Augustus 2026 Ds Jacques – Wie sê julle is ek?


Teks:  Matteus 16:13-20

Ons vra gereeld vrae en vrae word gereeld aan ons gevra, ons antwoord baie van die vrae sonder dat ons daaroor dink.  Ons verskaf sommer so in die algemeen antwoorde op vrae soos:  Hoe gaan dit met jou?  Wat gaan jy vandag doen?  Hoe besig lyk jou dag?

Jesus het ook vrae aan Sy volgelinge gevra.  Sy vrae is egter anders.  Sy vrae word nie ligtelik gevra nie.  Oor Sy vrae moet daar ernstig gedink word.  Sy vrae raak die fondament van dit wat ons glo en wat ons identiteit in Hom is.  So begin Hy hierdie gedeelte deur vir Sy volgelinge ‘n redelike algemene vraag te vra:  Wie sê die mense is die Seun van die mens?  Party dink Hy is Elia, Jeremia, Johannes die doper of een van die profete.  Hulle verstaan nie werklik wie Hy is nie.  Vandag is dit nogsteeds so.  Mense het baie idees oor wie Jesus is.  Mense bewonder Hom, respekteer Hom of sien Hom as iemand wat wonderlik geleef het en in wie se voetspore ‘n mens maar kan volg.  Elkeen van hierdie dinge sê iets van wie Hy is en wat Hy vir ons as mense leer, maar niks hiervan bely werklik wat Sy ware identiteit is nie.

Dan vra Jesus ‘n intens persoonlike vraag aan Sy dissipels:  Maar julle, wie sê julle is Ek?  Dit gaan nie oor wat die mense sê nie, maar julle…. jy.  Dit is die een vraag wat niemand anders namens jou kan beantwoord nie.  Petrus antwoord:  U is die Christus, die Seun van die lewende God.  U is die gesalfde, die Mesias wat al so lank verwag word.  Hy is nie bloot net ‘n besonderse mens nie.  En U is die Seun van die lewende God.  Petrus bely hier wat Jesus se werklike identiteit is. 

Dan sê Jesus dat hierdie nie iets is wat Petrus self uitgedink het nie.  ‘n Mens het dit nie aan hom openbaar nie.  Dit kom direk net so van die Vader uit die hemel.  Op hierdie belydenis sal Jesus Sy kerk bou.  En die magte van die doderyk sal dit nooit kan uitwis nie.  Daar is altyd hoop, vergifnis en genade in Jesus.  Hierdie vraag word aan elkeen van ons persoonlik gevra:  Wie is Jesus vir jou?  Bely soos Petrus, dan word jou belydenis dit waarop Jesus Sy kerk verder bou.  Leef dan jou belydenis in Hom met jou hele lewe uit en bou so saam aan die uitbreiding van Sy Koninkryk.