Preekskets 28 Desember 2025 Ds Jacques – Uiteenlopende reaksies op Jesus


Teks:  Hebreërs 2:10-18 en Matteus 2:13-18

Liedere:  197:1,2  231  201:1,2,3

Die koms van Jesus na die wêreld is nie ‘n neutrale gebeurtenis nie.  Van die eerste oomblik dat God mens geword het, word mense voor ‘n keuse gestel – Hoe gaan jy reageer?  Sommige jubel en juig daaroor.  Ander ignoreer Hom of sien Hom as ‘n bedreiging.  Sommige probeer selfs om Hom te vernietig.  Ons kan dus sê dat die koms van Jesus nie net vrede na die wêreld gebring het nie.  Hy kom ontbloot dit wat in mense se harte aangaan. 

In hierdie twee teksgedeeltes sien ons verskillende reaksies op die koms van Jesus.  In Matteus vind ons vir Herodes.  Hy is die koning en beskou Jesus se koms na die wêreld as ‘n bedreiging vir hom en sy nageslag.  Hy probeer kamstig by die sterrekykers uitvind waar die kindjie gebore is sodat hy ook aan Hom ere kan bring.  Gelukig verskyn ‘n engel aan hulle en ook aan Josef om Herodes se ware motiewe te openbaar.  Dis ironies om te dink dat die Een wat na die wêreld gekom het om vrede te bring en mense van hul sondes te kom verlos, deur ‘n aardse koning as ‘n bedreiging beskou word.  Tot so ‘n mate dat hy bevel uitvaardig dat alle baba seuntjies onder die ouderdom van 2 jaar dood gemaak moes word.  So ernstig voel hy daaroor om van Jesus ontslae te raak.  Jesus is nog net ‘n blote baba, maar sy blote teenwoordigheid ontlok alreeds so ‘n drastiese reaksie van Herodes. 

Later sou Jesus ook in Nasaret deur Sy eie mense misken word.  Waar het jy nou al ooit daarvan gehoor dat daar iets goeds uit Nasaret kan kom?  So word heeltemal deur hierdie mense mis gekyk.  God wil mense nuut maak.  Daarom het Sy Seun mens geword.  Hy kies nie afstand nie, maar nabyheid.  Hy identifiseer met ons.  Deur Sy lyding word ons verlos.  Hy is nie skaam om ons Sy familie, Sy broers en susters te noem nie.  Hy vereenselwig Homself tot die dood met ons.  Daarom sê Hebreërs vir ons dat daar ‘n ander reaksie op die koms van Jesus is.  Dis om volledig aan Hom oor te gee.  Om in geloof, oorgawe en aanbidding op Hom te reageer.  Hy bly getrou.  Hy red.  Hy gee ons altyd nog ‘n kans om ons saak met Hom reg te stel en tot eer van Hom te begin lewe.