Preekskets 1 Maart 2026 Ds Jacques – Van verheerliking na die kruis


Teks:  Matteus 17:1-9

Liedere:  286:1   241:1,2,3   309:1,2,3

Lydenstyd sentreer nie net rondom ‘n spesifieke datum op die kalender nie.  Dit is ‘n geestelike pelgrimstog.  Vandag se teks neem ons na ‘n besonderse gebeurtenis op ‘n berg.  In die Bybel is ‘n berg dikwels ‘n plek van ontmoeting met God.  Interessant genoeg vind hierdie gebeurtenis direk na Jesus se eerste aankondiging van Sy lyding en dood plaas.  Die berg van verheerliking staan daarom in die skadu van die kruis.

Voor Petrus, Jakobus en Johannes verander Jesus se hele voorkoms.  Sy aangesig blink soos die son, Sy klere word wit soos lig.  Hier sien ons nie ‘n ander Jesus nie.  Ons sien dalk die heel eerste keer die werklike Jesus, die Seun van God.  Die dissipels het Hom elke dag gesien, daar waar Hy moeg, honger en dors word.  Nou sien hulle heeltemal ‘n ander kant van Hom.  Om dit verder te bevestig, hoor die dissipels ‘n stem uit die hemel wat verklaar:  “Dit is my geliefde Seun.  Oor Hom verheug Ek My.  Luister na Hom”.

Die dissipels se eerste reaksie is om vir hulle op die berg hutte te bou en vir altyd in hierdie wonderlike teenwoordigheid van God te woon.  Hulle moet egter besef dat die gebeurtenis op die berg ‘n voorbereiding is vir dit wat op Jesus wag en nie Sy eindbestemming nie.  Die dissipels word geroep om saam met Jesus terug te keer na die regte wêreld en daar vir Hom te gaan leef. 

Jesus het hulle geleer dat Hy gaan ly, sterf en op die derde dag gaan opstaan.  Luister na Jesus as Hy ons roep tot selfverloëning, wanneer Hy ons die opdrag gee om ons kruis op te neem en Hom te volg, wanneer Hy verlore mense tot bekering oproep.  Die dissipels raak bang en val op hul gesigte neer.  Jesus raak hulle aan en stel hulle gerus.  “Moenie vrees nie.  Staan op en volg My”.  In lydenstyd word ons herinner wanneer alles wegval, bly net Jesus oor.  Maar Hy is al wat ons nodig het.  Ons geloof berus op wie Jesus werklik is.  Ons word geroep om na Hom te luister.  Ons word geroep om saam met Hom te getuig in die wêreld.  Die Christelike lewe is nie ‘n vlug uit die wêreld nie, maar ‘n roeping binne die wêreld, met die heerlikheid van Jesus in ons harte.  Kom ons leer in die lydenstyd om Hom werklik te leer vertrou en te volg.