Teks: Matteus 10:40-42
Liedere: 175:1 268: 214:1,2,3
Wanneer ons aan sending dink, dink ons gewoonlik aan mense wat na verafgeleë lande reis en onder groot gevaar die evangelie aan onbereiktes moet bring. ‘n Klein deeltjie van sending bestaan wel hieruit. In Matteus 10 kry ons egter ook ‘n ander prentjie. Hier word vir ons gesê dat sending nie net bestaan uit mense wat vertrek om die evangelie te gaan bedien nie. Sending bestaan ook of bedink dalk juis by mense wat bereid is om vir of names Christus te leef. Hierdie woorde vind ons in ‘n gedeelte waar Jesus Sy dissipels uitstuur. Vir die wat gaan waarsku Hy dat dit nie altyd maklik sal wees nie. Hulle gaan nie noodwendig orals aanvaar word nie. Hulle mag weerstand beleef. Dan gee Hy vir hulle hierdie wonderlike troos woorde: Wanneer mense julle ontvang, ontvang hulle My. ‘n Christen se lewe is nooit net sy of haar eie lewe nie – Ons dra die teenwoordigheid en die boodskap van Christus met ons saam.
Sending begin by die besef dat ons gestuurdes van die Here is. Dit geld vandag nog. Die wêreld sien dikwels nie eerste vir Jesus of die Bybel nie – hulle sien Sy volgelinge. Hulle ontmoet Hom deur die manier hoe ons praat, optree, vergewe, dien en liefhet. Daarom moet ons elke dag leef soos mense wat deur Jesus gestuur is. Sending gaan oor die oopmaak van mense se harte vir die liefde en boodskap van Jesus. In ons wêreld is daar baie mense wat eensaam en vergete is. Daar is baie mense wat swaar kry. Dis juis vir sulkes wat ons die liefde van Jesus kan bied.
Hoe? Nie deur hulle deur groot evangelisasie pogings te probeer bereik nie. Deur eenvoudige dade van liefde aan hulle te bewys. Die kleinste daad wat met liefde aan ‘n ander gedoen word, het in God se oë ewigheidswaarde. Ons dink ons moet net groot goed doen om ‘n verskil te maak. Maar God werk dikwels deur die klein oomblikke waar Sy liefde deur mense sigbaar gemaak word. Deur die dade van liefde word Christus aan mense bekend gestel. Ons doen daarom nie net liefdadigheidswerk om mense se lewens beter te maak nie. Ons help mense omdat Christus ons verander het, en ons wil hê dat hierdie mense deur ons dade vir Hom sal ontmoet. Selfs iets so eenvoudig soos ‘n beker water kan ‘n kragtige uitdrukking van Christus se liefde word.