Preekskets 12 November 2017 Ds Jacques – Jesus se teer hart


Teks:  Matteus 9: 35-38

  • Jesus sien die verwardheid van die wêreld

Onder die tyd van Jesus leef die mense onder baie uitdagende omstandighede.  Mediese sorg is swak, baie verskillende godsdienste en filosofië laat hul invloed op die samelewing en daar is maar net ‘n paar mense wat in Jesus as Messias glo.  Jesus besoek die dorpies van die omgewing, leer die mense die evangelie en genees die siekes en al die verskillende kwale waaraan hulle behoort.

  • Jesus het empatie met ons

In dit alles sê vers 36 vir ons dat Jesus die menigte mense innig jammer gekry het.  Dit volg op wat Jesus in vers 35 alles gedoen het.  Al het Jesus reeds so baie gedoen sien ons dat Jesus ‘n menigte mense raaksien wat steeds moeg en oorlaai voel.  Dit is net die wat in die Jerusalem omgewing in nood verkeer.  Dit bring ons nog nie eens by die res van die wêreld wat in nood verkeer nie.  In hierdie konteks kry vers 37 nuwe betekenis, wanneer Jesus sê die oes is groot, maar die arbeiders is min.

  • Om met die oë van God te sien

In vers 38 vra Jesus dat God in gebed om meer arbeiders gevra moet word.  Dit gaan egter ook oor nog veel meer.  Ons leef in ‘n wêreld waar alles om onsself en ons behoeftes draai.  Wanneer Jesus vra dat ons moet bid dat God meer arbeiders moet stuur, vra Hy eintlik ook dat God ons oë sal oopmaak sodat ons dit kan regkry om weg van onsself te kyk en met God se oë na die nood van die wêreld te kyk.  Om egter die nood raak te sien, beteken nog nie noodwendig dat dit ons harte raak nie.

  • Om met die hart van God te voel

Wat moet dan gebeur?  Ons harte moet soos God se hart begin voel.  Ons moet dieselfde innige simpatie vir mense ontwikkel as wat Jesus vir hulle gevoel het.  Jesus vra nie net dat ons moet bid vir meer arbeiders nie, Hy wys ons ook nie net op die nood om ons nie, Hy demonstreer aan ons hoe ‘n lewe geleef moet word wat mense innig jammer kry.

  • Jesus onderrig ons om soos Hy te word

Sy hele bediening op aarde dui op ‘n lewe van iemand wat leef wat Hy verkondig.  Hy verwag dan van ons om te doen wat ons glo.  Alles loop dan uit op die kruisiging.  Hulpelose skape kry deur Jesus ‘n wagter.  Sodra ons deur Jesus die skaapwagter gevind word, word ons deel van die ingesamelde oes.  Dan is ons outomaties deel van die arbeidsmag wat die res van die oes moet inbring.

Die nagmaal is ‘n herinneringsmaaltyd aan wat Jesus vir ons gedoen het.  Dis ook ‘n versterkingsmaaltyd om ons met nuwe krag toe te rus om verder in Sy diens te staan.  Vertrou God in gebed om ons oë oop te maak en met Sy innige hart te kyk, toegerus te word en werklik ‘n verskil in die oesland te maak.