Preekskets 14 Januarie 2018 Ds Jacques – Oefen jou geloof


Teks:  Markus 9: 14-29

Geloof gaan daaroor om ons hart vir die Here te gee.  Dit gaan egter nie net daaroor nie.  Dit is slegs die begin van die pad wat ons met die Here loop.  Geloof is om God te vertrou vir al ons behoeftes en begeertes.  Dit is om God te vertrou vir alles wat ons elke dag van ons lewe nodig mag hê, maar dis nie alyd so maklik nie.  Dis iets waarin ons moet groei.  En dit gebeur nie sommer vanself nie.  Ons moet ons geloof oefen.  Ons moet die geleenthede daarvoor gebruik wat God oor ons pad bring.

Gelukkig ken Jesus die mate van ons geloof.  Hy sal ons nooit bo ons eie kragte toets nie.  Soos ‘n fietsryer wat aan ‘n baie lang wedren wil deelneem weet, is dit nodig om eers met korter afstande te begin en dan stelselmatig aan jou fiksheid te werk.  So word die persoon al fikser en sterker en maak hy of sy hulself gereed vir die groot dag wanneer die wedren gaan plaasvind.

God eer dit wanneer ons vir meer geloof vra.  Dit is soos wanneer die fietsryer na ‘n afrigter toe gaan en sê dat hy sukkel om fikser te word en verder te ry.  Die bekwame afrigter help baie graag.  So ook met die Here.  As ons aan die Here erken dat ons maar kleingelowig is help Hy ons om die groot geloofspronge te neem.  Hy neem ons hand en dra ons deur die moeilike, twyfel tye.

So word ons geloof geoefen en begin ons om vir meer en meer kans te sien.  Dit is natuurlik nooit ons wat so wonderlik raak nie, maar altyd die Here wat besig is om die geloofspotensiaal wat Hy reeds in ons geplant het, te ontwikkel.  So sien ons in vandag se teks ‘n pa wat sy siek seun na Jesus bring.  Die dissipels is nog nie by magte om die seun te genees nie.  Hulle moet nog leer hoe om te bid en God te vertrou vir wonderwerke.  Die pa vra Jesus om sy seun te genees, as Hy wil en as Hy kan.  Jesus spreek ook hier die pa se ongeloof of kleingeloof aan.  Daarna sê die pa: “Ek glo” en die seun word genees.

Die vraag wat ons onsself afvra is:  Hoe oefen ons ons geloof of hoe groei ons geloof?

Daar is 4 baie belangrike elemente:

  • Erken jou geringe geloof.
  • Vertrou God vir meer geloof.
  • Vervang jou vreesgedagtes met geloofsgedagtes.
  • Praat met geloof.

Soos wat jy die Here sien werk, sal jou geloof begin groei!!!