Teks: Lukas 19:28-40
Liedere: 390:1-4; 391:1,2; 273:1,3
Watter gebeurtenisse in die geskiedenis het die grootste impak op die mensdom gemaak? Op hierdie vraag is daar ‘n hele paar antwoorde. Groot oorloë soos die Wêreldoorloë het verseker die verloop van die geskiedenis van die mensdom heeltemal verander. Nuwe denkrigtings soos met die Verligting of met die Reformasie het ook ‘n baie groot invloed gehad. Dan is daar natuurlike tegnologiese ontwikkelings en ontdekkings soos die rekenaar, die internet, elktrisiteit of iets soos die ontwikkeling van motors. So kan ons aangaan. Elkeen van die gebeurtenisse het die wêreld onherroeplik verander.
Bo dit alles is daar natuurlik een gebeurtenis wat die verloop van alle mense wat nog ooit op aarde geleef het se toekoms verander het. Dit is natuurlik die koms van Jesus na die aarde en Sy kruisdood en opstanding. In vandag se teks word Jesus se intog in Jerusalem beskryf. Jesus word soos ‘n groot vors of heerser ontvang. Hy word besing en op ‘n rydier geplaas vir die groot intog. Die vertoon kom egter net van die volgelinge se kant af. Jesus is anders. Hy stuur Sy dissipels om vir ‘n donkie te gaan haal. ‘n Donkie van alle diere. Hiermee demonstreer Hy Sy dienskarakter. Hierdie grootste triomftogte van almal ry Hy die stad op die rug van ‘n donkie binne.
Tot nou toe het Hy aanhoudend vir Sy volgelinge gesê dat hulle nie vir die mense moet vertel wie Hy is nie, want Sy tyd het nog nie gekom nie. Maar nou is dit Sy tyd. Nou moet almal weet. Wanneer die Fariseërs dan nou bang is dat die lawaai ‘n oproer gaan veroorsaak, sê Hy dat dit nie gaan help om hulle te probeer stil maak nie, want as die mense die aankondiging nie gaan maak nie, sal die klippe dit uitskree. Hy is die koning van alle konings, Hy is die vredemaker wat gekom het om die mensdom te kom red. Almal moet daarvan hoor en almal moet daarvan praat.
Vandag is daar nogsteeds baie mense wat dit nie van Hom glo nie en wat eerder sal verkies dat mense wat opgewonde oor Jesus raak stilgemaak moet word. Die vraag wat ons onsself moet afvra is of ons deel van die stilmakers is of is ons deel van die wat palmtakke en klere op die grond gooi en uitroep dat Hy die een is wat vrede bring, ons Koning en ons Verlosser? Dis ons taak om dit wat ons glo met ander te deel en dit uit volle bors uit te basuin.