Teks: Esegiël 11:1-25
Liedere: 125:1-4, 232:1,2 271:1,2
Alfred Nobel was ‘n Sweed wat bekendheid verwerf het as gevolg van al die patente wat hy in sy tyd geregistreer het. Hy was ‘n chemiese ingeneur. Hy het veral naam gemaak as ‘n wapenontwerper. Sy grootste prestasie was dat hy dinamiet uitgevind het.
‘n Joernalis het volgens oorlewing verkeerdelik ‘n doodsberig oor hom in die koerant geplaas, natuurlik voordat hy gesterf het. Hy het gevolglik sy eie doodsberig gelees en was erg geskok toe hy sien wat daar oor hom geskryf word. As gevolg van sy uitvinding het duisende mense in oorloë hul lewens verloor. Hy het besluit dat dit nie die rede moes wees waarom mense hom sou onthou nie. Hy het sy geld in sy testament beskikbaar gestel vir die skepping van die Nobelprys vir vrede. In 1901 is hierdie prys die eerste keer toegeken aan die persoon wat die grootste invloed in die wêreld as vredesaktivis gehad het. Hierdie prys word tot vandag toe steeds toegeken.
Die vraag waarmee ons onsself moet besig hou is: Waarvoor sal mense jou die dag onthou as jy nie meer hier is nie? Ons weet dat ons die Here se voorskrifte en bepalings moet gehoorsaam. Dit is die heel belangrikste opdrag wat ons het. Ongelukkig doen ons nie altyd wat van ons gevra en verwag word nie. Die Woord leer ons dat God alles van ons weet. Hy ken selfs ons gedagtes. Die Here weet daarom hoe ver of hoe naby ons van Hom af staan.
Soos wat die Here vir die Jode beloof het, beloof Hy steeds vandag aan ons dat Hy by magte is om verandering te bring. Hy is die een wat ons hartelose kliphart in ‘n hart van vlees kan verander. Hy kan ons hart met Sy Gees vul en dan vir ons ‘n nuwe hart gee. Dit is Hy wat ons leer om ons eie gebrokenheid in ander se lewens te herken, om soos Jesus na die wêreld te kyk. As dit met ons gebeur beloof die Here dat ons dan Sy volk sal wees en Hy ons God. Met hierdie veranderde hart is ons gereed om te wees wat Hy wil hê ons moet wees.