Teks: Haggai 1:13-2:9
Liedere: 456:1,3 167:1,2 485:1,2,3
Ons weet nie veel van die profeet Haggai nie. Hy word as een van die klein profete gereken oor die lengte van die boek. Tog speel die profeet ‘n baie belangrike rol in die geskiedenis van Israel. Die boek gaan oor die herstel en die herbou van die tempel nadat die Jode van ballingskap af terug gekeer het na Jerusalem.
Hierdie is ‘n boek van inspirasie. Hopelose mense bevind hulself terug in hul land en in hul stad. Alles is vernietig en vervalle. Net ‘n paar mense het in die stad agter gebly en met die terugkoms van die ballinge, is hul prioriteit nie noodwendig op die herstel en opbou van die tempel nie. Almal probeer oorleef en almal probeer net die beste van die omstandighede waarin hul hulself bevind, maak. Daar is min entoesiasme onder die mense. Die werk lyk ook vir hierdie groepie mense heeltemal te groot.
Die gevolg is dat die mense se moed ontbreek om hierdie groot taak aan te pak en te voltooi. Haggai tree nou as ‘n motiveringspreker op. Hy moet die mense so ver kry om te begin kans sien vir die werk. Hy is egter nie net ‘n motiveerder nie. Hy is ook die teologiese stem wat die mense in hierdie tyd moet hoor. Hy moet hulle aan God se grootheid herinner. Hy moet hulle herinner aan wat God al alles in die verlede vir die volk beteken het en ook gedoen het. Hulle moet besef dat God hulle nog nooit in die steek gelaat het of een van Sy beloftes nie gehou het nie.
Daarom herinner hy hulle aan die betekenis van die simbool van die tempel in hul midde. Hoe dit gaan bydra om die mense aan God se rol in hul lewe te herinner. Hulle moet besef dat dit God se droom is om te herstel en te herbou. Hulle is selfs die medewerkers, die wat die taak moet uitvoer. Daarom mag hulle nie oorweldig voel of moed verloor nie. God sal sorg. God sal voorsien. God sal toesien dat hierdie taak wat aan hulle opgelê is, voltooi sal word. Daarom: Skep moed. Die groot bate waaroor hulle beskik en waarvan hulle vir die oomblik vergeet het, is dat hulle steeds ‘n groot groep mense is. As elkeen sy deeltjie doen, raak die werk vir almal minder. Begin net. Doen net wat God vra. Hy sorg vir die res. Ook steeds vandag in ons lewens en in ons tyd.