Teks: Johannes 6: 1-15
Liedere: 167:1,2 255:1,2,3 286:1
‘n Menigte mense is besig om al agter Jesus aan te stap om na Sy onderrig te luister. Hy praat so boeiend dat hulle nie eens ag gee op hul eie behoeftes nie. Dit raak laat en hulle het nie voorsiening gemaak vir kos nie. Dan doen Jesus ‘n vreemde ding. Hy sê vir Sy dissipels dat hulle vir die mense kos moet voorsien. In hierdie verhaal tref ons 3 figure van belang aan. Eerste kry ons vir Filippus. Wanneer Jesus hierdie versoek aan die dissipels rig, is hy die een wat in ongeloof reageer. Hy kyk menslik na die 5000 mans en al die vrouens en kinders en vra dan die logiese vraag: Here, waar moet ons miskien gaan brood koop vir soveel mense? Hy sien die hoeveelheid mense raak. Hy maak somme van wat dit gaan kos om hulle te voed. Logies kan dit net nie vir hom werk nie.
Dan stap daar ‘n seuntjie met 2 vissies en 5 broodjies verby. ‘n Heerlike maaltyd vir hom en oorgenoeg om in sy behoeftes te voorsien, maar by verre onvoldoende om vir al hierdie mense te voorsien. Andreas sien die seuntjie raak en maak ‘n vreemde opmerking. Here, hier is ‘n seuntjie met ‘n bietjie kos. Dalk het hy gedink aan die bruilof waar Jesus kanne vol water in wyn verander het. Hy wys Jesus op dit wat hierdie seuntjie het en Jesus gebruik dit dan om vir die massa mense kos te gee. Die seuntjie het natuurlik ook dit wat min gelyk het en wat sekerlik net vir hom genoeg gewees het tot Jesus se beskikking gestel. En kyk net watter ongelooflike wonder vind hier plaas. Almal word gevoed en nadat almal genoeg gehad het tel die dissipels nog 12 mandjies vol brokstukke op. As ons na ons eie lewe kyk moet ons erken dat ons ook gereeld soos Filippus kyk en somme maak. Ons voel ook gereeld dat dinge oorweldigend is, dat daar nie enige uitkoms is nie. Jesus wil egter hê dat ons soos Andreas moet begin kyk. Ons moet die moontlikheid wat kan wees omdat Jesus betrokke is begin raaksien. Ons moet sien wat wel beskikbaar is en dan nie teen die geringheid daarvan vaskyk nie, maar eerder glo dat dit in Jesus se hande genoeg gaan wees.