Preekskets 14 Julie 2024 Ds Jacques – Vreugde in die Here


Teks:  2 Samuel 6:1-23

Liedere:  158:1,2  499:1,2,3  470:1,3

Samuel salf ‘n jong Dawid as die nuwe koning van Israel.  Samuel is aan die begin nie baie beïndruk met die Here se keuse nie.  Dawid is die kleinste en jongste van die broers.  Tog het hy onmiddellik geweet dat Dawid die Here se keuse is.   Die Gees van die Here rus op Dawid en hy raak ‘n wonderlike koning.  Die Gees van die Here het kragdadig op hom gerus.  Na Saul se dood neem Dawid sy intrek in Jerusalem, die Dawidstad. 

Nou besluit Dawid om die ark, wat vroeër deur die Filistyne geroof is, na Jerusalem te bring.  Sy bedoeling is opreg, maar die manier waarop hy dit doen, dra nie die Here se goedkeuring weg nie.  Hy maak ‘n groot storie hiervan en die belangrikste mense neem aan die geleentheid deel.  In hierdie oomblik vergeet Dawid dat die teenwoordigheid van die Here heilig is, want die Here self is heilig.  Daarom moet ‘n mens baie versigtig wees wanneer jy met die dinge van die Here besig is.  Ons kan nie op ons manier met die Here omgaan nie, al is ons bedoeling ook hoe opreg.

Die ark van die Here word met feestelikheid na Jerusalem gebring, maar dan struikel die osse en Ussa gryp na die ark om te keer dat dit omval.  Ussa word onmiddellik met die dood getref.  Dawid en die gevolg skrik vreeslik groot en die feestelikheid stop onmiddellik.  Dawid besluit selfs om nie meer die ark na Jerusalem te bring nie, maar dit sommer by die naaste huis, die huis van Obed-Edom te los.  Sy huis beleef ongekende seëninge as gevolg van die teenwoordigheid van die ark.  Dan besluit Dawid tog om die ark na Jerusalem te bring.  Hierdie keer praat hy egter met die priesters en hoor by hulle wat hy voorheen verkeerd gedoen het.  Die ark moet op ‘n spesifieke manier deur die priesters hanteer word.  Offers moet aan die Here gebring word.  Dawid as koning verneder homself voor die Here deur voor die ark te dans.  Mikal lag vir hom en sê dat dit nie die waardige manier is hoe ‘n koning hom moet gedra nie.  Dawid steur hom egter nie hieraan nie.  Hy sê vir haar dat die Here alles in sy lewe is en dat hy hom selfs nog meer sal verneder as dit is wat die Here van hom vra.  Sy hele gesindheid het verander.  Die Here is nou vir hom alles.  Kom ons leer uit die voorbeeld van Dawid.