Preekskets 11 Mei 2025 Ds Jacques – Liefde duur vir ewig


Teks:  Jesaja 49:8-26

Liedere:  111:1,2,3,4  309:1,2,3  305:1,4

Kan God ‘n mens vergeet?  Wanneer Jesaja met die volk Israel praat, mag hierdie ‘n vraag wees waarmee die mense worstel.  Hulle het hul land verloor en moet nou onder ‘n vreemde regering, in ‘n vreemde land leef.  Alles wat vir hulle belangrik was, is van hulle af weggeneem.  Hulle voel verraai en vergeet.  Hulle verwyt God vir die situasie waarin hulle hulself bevind. 

Jesaja moet die volk help om tot die besef te kom dat hulle hulself in hierdie situasie bevind as gevolg van hul eie skuld.  Dit is nie God wat hulle vergeet het nie, maar eerder hulle wat hul rug op God gekeer het.  God moes die volk aan hierdie baie moeilike omstandighede blootstel om hulle by ‘n punt van inkeer te bring.  Sodra hulle berou toon en na God terug keer, sal Hy hulle weer herstel.  Hy wil hulle herstel. 

Jesaja herinner hulle daaraan dat God hulle so lief het soos wat ‘n moeder haar kinders lief het.  Hy herinner hulle daaraan dat ‘n moeder alles vir haar kinders sal opoffer.  Sy sal haarself eerder te kort doen, as om te sien dat haar kinders iets kort.  Selfs al is dit moontlik dat ‘n moeder haar kinders vergeet en afskeep, sal God dit nooit aan Sy kinders doen nie.  Hy het ons so lief dat Hy bereid was om Sy eie seun as ‘n losprys vir ons na die wêreld te stuur, sodat ons deur Hom vrygemaak kan word… en ons om daardie rede nooit ooit weer van God vervreem sal wees nie.  Deur die offer van Sy eie Seun sal ons nooit in ons hele lewe, of selfs na ons aardse lewe, weer sonder God wees nie.  Die volk moes dus besef dat dit hulle was wat God vergeet het, nie God wat hulle vergeet het nie.  Hulle moes dit erken en weer na God terug keer.  Hy het ons oneindig lief.  Daar is geen einde aan Sy liefde nie.  Die vraag is dus nie:  Kan God ‘n mens vergeet nie?, maar eerder:  Kan ‘n mens ooit so ‘n God vergeet?