Teks: Romeine 15:4-13
Liedere: 344:1,2,3 334:1,2,3,4 332:1,2,3,4
Ons aanbid ‘n God van hoop. ‘n God wat getrou is. Hy gee vir ons Sy Woord om dit te leer, om ons te bemoedig, om ons te help om te volhard. Jesus is die vervulling van God se genade belofte aan die wêreld. Hy kom in nederige menslikheid. Hy kom as die Redder vir die wêreld. Daarin sien ons God se liefde sonder grense. Die Heilige Gees maak ons oë oop om God se beloftes raak te sien vir wat dit is. Hy vul ons met vreugde en vrede.
In die Adventtyd vind ‘n herinnering plaas van die koms van die Jesus kind na die wêreld, God se beloftekind. Ons wag om Sy koms te herdenk. Ons wag gefokus, ons wag met hoop. Hierdie hoop is gesetel in God se karakter, plan en Sy getrouheid. In hierdie teks word verskeie sentrale waarhede van die evangelie gekommunikeer. Paulus praat nie van ‘n vae hoop nie. Hy praat van oorvloedige hoop.
Die hoop gaan oor God se reddingstorie wat deur die eeue ontvou het. Die Woord is God se getuienis oor Sy getrouheid oor die eeue. Dit verseker van Sy getrouheid vir die hede en die toekoms, want Hy was nog altyd in die verlede getrou. Wanneer die wêreld onseker lyk, herinner die Woord ons dat Hy die mensdom nog altyd gelei het en sal bly versorg deur alle tye.
Die Bybel bevat daarom nie net herinneringe van dinge wat in die geskiedenis gebeur het nie. Die wonderlike verhale in die Bybel dien ook as brandhout om ons hoop lewendig te hou. Die Skrif leer ons daarom om te volhard. Dit bemoedig ons. Dit laat ons hoop groei. Elke keer as ons die Woord oop maak, bring God ons nader aan Sy hart. En Sy hart is vol hoop vir Sy kinders en vir die wêreld. Hierdie is nie ‘n hoop wat van ons omstandighede afhang nie, maar wat uit God se karakter gebore is. Hy is getrou, almagtig en liefdevol. Daarin lê ons hoop. Dis ‘n hoop wat toekoms gerig is, Jesus kom weer, maar ‘n hoop wat aktief betrokke in ons huidige, alledaagse lewe is. So kom ons leef met die beloftes wat God aan ons as mens gemaak het. Leef met die wete dat my lewe in Sy hande geplaas is.