Preekskets 14 Desember 2025 Ds Jacques – ‘n Woestyn wat begin blom.


Teks:  Jesaja 35:1-10

Liedere:  338:1,2,4  346:1,2,3   339:1,2

Jesaja is een van die mooiste poëtiese, hoopvolle en vreugdevolle gedeeltes in die hele Skrif.  Dis geskryf in ‘n tyd van gevangenskap, wanhoop en onsekerheid.  Die volk se toekoms het donker gelyk.  Hulle land was verwoes en hulle harte was moeg.  Tog bring God in hierdie tyd nie vir hulle ‘n boodskap van oordeel nie, maar van herstel.  Dus nie van ‘n einde nie, maar van ‘n nuwe begin.  Hierdie hoofstuk skets die beeld van ‘n droeë en dorre woestyn wat begin blom.  Dis ‘n onmoontlike prentjie, ‘n ondenkbare prentjie.  Maar juis daarom is dit die perfekte prentjie of metafoor vir die manier waarop God werk.  Hy doen dit wat vir mense onmoontlik lyk.  Hy kan ‘n woestyn in ‘n blomtuin verander.  En hy verander nie net die dinge rondom ons nie, maar ook binne in ons. 

Alle vernuwing begin by God.  Die woestyn kan nie self besluit om lewe voort te bring nie.  God moet dit laat reën.  In hierdie teks is dit God se beloftes wat oor Sy volk breek, oor ‘n volk wat moeg en uitgeput is.  Jesaja kan dan sê:  Die woestyn en die droë land sal weer bly wees”.  Dit is wat God belowe en laat gebeur.  Ons hoef nie harder te probeer, beter te doen, maar weer net opstaan as ons geval het nie.  Dis God wat inkom en die verandering bring.  Dis Hy wat vreugde, lewe, kleur, oorvloed en hoop bring. 

Wanneer God iets belowe is dit nie net ‘n moontlikheid nie.  Dis ‘n toekomstige werklikheid.  Daarom moet ons nie moed opgee nie.  As God in ons harte ‘n visie sit, sal Hy dit in ‘n wonder verander.  Dit is die hart van Jesus se Koninkryk.  Waar Hy regeer, floreer hoop.  Waar Hy inkom, word duisternis uitgedryf.  Waar Hy werk, word alles nuut.  Wanneer Jesus bou, bou Hy nie aan iets tydeliks nie.  Hy bou aan iets ewig en kragtig, iets wat nie deur omstandighede of jou omgewing vernietig kan word nie.  En dit is wonderlike nuus.  Dit beteken dat jou “woestyn” nie die laaste sê oor jou lewe het nie.  God se genade en liefde oorskadu jou huidige omstandighede.  Hoop floreer omdat Jesus teenwoordig is.  God se verandering gebeur stadig.  Hy werk nie met kitsoplossings nie.  Hy werk blywend.  Daarom moet ons wag met verwagting.  Sien hoe daar wortels in die woestyn gevorm word, plante begin groei, Sy lewe en hoop besig is om te vorm.  God berei ons harte voor om Hom aan die werk te sien.  Die woestyn in jou hart kan blom.  Vertrou Hom.