WAAR DAAR LIEFDE EN DEERNIS IS, DAAR IS GOD DIE HEER
Jy kan weer begin! God se storie met sy mense maak sy punt: As jy onderaan jou storie skryf: “Die Einde”, blaai God om en skryf: “Die Begin.” Het jy opnuut ‘n behoefte aan hoop en sin? Lees saam met my deur die boek Rut, één Bybelboek wat praat van liefde, omgee, deernis en God se buitegewone sorg in die gewone en alledaagse lewe. Uit Rut leer ons: waar daar liefde en deernis is, daar is God die Heer. Alles het vir die mense in die Rut-storie en rondom die ontstaan van die Rutboek in nood begin. Dit was swaarkrytye. Swaarkrytye is in Israel se geskiedenis nie vreemd nie.
Hoe lyk die ontstaanstyd van Rut? Die goue era van Dawid en Salomo is verby. Die ryk is in twee verdeel. Die Suid-ryk eindig in die katastrofiese Babiloniese ballingskap (597-587vC). Alles wat kosbaar was, is vernietig: Jerusalem, die tempel en die Troon van Dawid. In haglike omstandighede vertel hulle volkstories as bemoediging en een van hierdie verhale lees ons in die Rutboek. Die Rut-storie begin in die dae van die Rigters, tye van aanskoulike en indrukwekkende gebeure. Dink aan Simson. In daardie tyd is daar ‘n gewone gesin wat swaarkry. Daar is baie ironie: Betlehem (die huis van brood) het geen brood nie. Elimelek (“my God is koning”) sterf. Hulle trek uit Bethlehem en met hul wegtrek na Moab is dit asof God Hom onttrek. Al die manlike gesinslede sterf. Moab wat uitkoms moes bied word ‘n plek van verskrikking waar die dood seëvier. Drie kinderlose weduwees bly agter. Dit impliseer die uitsterf van ‘n familie, sosiaal is hulle “niemand”, “sonder indentiteit.”
Gelowiges ken vandag ook donker dieptes en word ook soms met swaarkrytye gekonfronteer. Swaarkrytye wat eintlik jou einde moet beteken. Wat gebeur as jy soos Naomi in die boek Rut voel: “die Here het teen my gedraai…die Almagtige het die lewe vir my baie bitter gemaak. My lewe was vol toe ek hier weg is, maar die Here het my leeg laat terugkom…die Almagtige het ‘n ramp oor my gebring” (Rut 1:13,20-21)? Verstaan jy dit? Naomi ervaar vyandigheid teenoor haar. Sy is broos en bitter. Soos Job verloor Naomi alles. Soos Job ervaar sy God as afwesig en vyandig teenoor haar. Soos Job verwoord sy haar bitterheid en teleurstelling in God wat haar verlaat het en haar van alles wat vir haar kosbaar is beroof het.
Die Rutboek is ‘n verhaal van ‘n lewe van Goddelike sorg, barmhartigheid, genade en troue liefde. Hoe kom ons by hierdie opsomming? Daar is hierdie één goue draad dwarsdeur die boek: hesed! Die Hebreeuse woord vir onwrikbare liefde, standvastige trou, deernis en lojaliteit wat nooit wankel nie. Onbaatsugtige en selflose liefde wat gee sonder om iets terug te verwag. Dit is wat Rut aan Naomi doen (2:11); dit is wat Boas aan Rut doen (2:8-9,14,15,16,18; 3:15). Uiteindelik is dit nie net materiële hulp nie, maar ‘n nageslag! Kringe van ‘hesed’ omskep die doodse-donker-verhaal in ‘n lig-van-lewe-en-hoop. God wat afwesig lyk word sigbaar en kenbaar in die liefdevolle optrede van mense teenoor ander mense.
Hoop lê daarin dat die moedelose en godverlate, die lewegewende God se hand in die ‘hesed’ van ‘n vriend sal ontmoet. In die Rut-verhaal sien jy dat God lewe gee. Hy kan dit wat vir mense onmoontlik lyk, moontlik maak. Kortom: God gebruik mense in ons lewensverhale. En waar God is, is liefde (1Joh 4); “God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het” (Rom 5:5). Hierdie liefde sluit die lewe oop.
Ds HJ (Maans) van Zijl