Tema: Uitgenooides na die fees
Teks: Lukas 14:15-25
Jesus word genooi om by ‘n vername Fariseër te eet. Die gasheer is egter nie baie opreg in sy gasvryheid nie. Hy hou vir Jesus fyn dop tydens die ete. Die afleiding kan gemaak word dat Jesus gewantrou word deur die Fariseër.
Jesus het alreeds by twee geleenthede mense op die Sabbatdag gesond gemaak. Dit het die fariseërs geweldig ontstel. Aan die tafel is daar ‘n man wat aan water ly. Waar die Fariseërs gewoonlik vir Jesus met ‘n strikvraag probeer vastrek, kry ons dit nou hier dat Jesus die een is wat aan hulle ‘n baie ongemaklike vraag vra, naamlik: Mag ‘n mens goed doen op ‘n Sabbat?
Die Fariseër het nou ‘n probleem. Indien hy ja sou antwoord, sal die mense sê dat hy hulle nog die heeltyd verkeerd geleer het, want hulle het by hom geleer dat daar nie op die Sabbat enige werk gedoen mag word nie. Sê hy egter nee, kan die mense voel dat hy harteloos is en nie vir mense wat seer het omgee nie. Hy bly dis stil. Jesus genees die man en stel dieselfde vraag weer aan hulle. Weer kan hulle nie antwoord nie. Jesus het nou hier in die pratyk kom demonstreer dat Hy Heer oor die Sabbat is.
Nou gaan Jesus voort om deur middel van gelykenisse vir die gasheer en die gaste te wys dat die rede waarom hy die uitnodiging aan hulle gerig het en hull dit aanvaar het, nie reg is nie. Sy motivering om die uitnodiging te rig en die gesindheid waarmee hulle die uitnodiging te aanvaar, is verkeerd. Vir die gasheer stel hy dit in die gelykenis, dat hy net mense nooi wat sy aansien vergroot. Hy nooi vername mense wat vir hom in die toekoms van waarde kan wees en wat hom heel moontlik weer na hul feesgeleenthede sal terug nooi.
Die gaste aan die ander kant baklei oor wie die beste sitplekke, die naaste aan die gasheer, moet kry. Almal storm op hierdie plekke af. Weereens om in die gasheer se goeie boekies te kom en ook om deur die ander mense wat die ete bywoon raak gesien te word en so hul eer en aansien by die teenwoordiges te vergroot. Daar is geen hartelikheid en opregtheid teenoor mekaar nie. Dit gaan oor eie gewin.
Jesus gaan nou oor na ‘n volgende gelykenis waarin Hy vir die mense wys hoe verkeerd hulle is. Hy vertel die verhaal van ‘n man wat baie moeite doen en ‘n groot fees vir uitgesoekte gaste hou. Die mense maak egter een na die ander verskoning waarom hulle nie die fees kan bywoon nie. Op die oog af is dit alles goeie verskonings, maar Jesus vergeestelik die verhaal en wys die mense daarop dat dit hier oor veel meer gaan. Die gasheer wat die mense nooi is God. Die mense wat nee sê vir die uitnodiging toon hiermee dat hul besittings vir hulle belangrikker is as die verhouding wat hulle met die gasheer (God) het.
Nou nooi God ongenooides na die feesmaal. Selfs mense wat buite die stad was word genooi. Armes, kreupels, verlamdes en blindes word almal genooi. Hulle kom in groot getalle na die fees.
In hierdie verhaal leer Jesus vir die vername fariseër en ook vir ons vandag, ‘n paar baie waardevolle lesse: In God se koninkryk werk dinge anders. God vra dat mense wat vir jou niks kan terug bied nie genooi moet word en met ope arms ontvang moet word. Wanneer mense jou nie kan vergoed nie, verwag om deur God beloon te word. Die gasheer (God) is gretig om te nooi. Hy wil graag baie mense by Sy feesmaal verwelkom. As die voor-die-hand-liggende gaste nie reageer nie, gooi die gasheer nie tou op nie. Hy hou moed, Hy maak ‘n ander plan. Hy nooi onverwagse gaste en is nogsteeds net so bly dat hulle die uitnodiging aanvaar. Ons moet besef dat ons ook deur God na Sy feesmaal genooi word. Ons moet seker maak dat ons verhouding met Hom baie swaarder weeg as enige iets anders. As dit so is kan ons ja sê op die uitnodiging en saam met Hom die fees geniet.
Laastens leer ons hier dat die gasheer (God) al gretiger raak om mense na die feesmaal te nooi. Dit wys vir ons dat die tyd om evangelisasie te doen al minder word. Ons moet die tyd benut. Die oes is groot, maar die arbeiders is min.