Teks: Efesiërs 1:3-14
- Wat is ons goddelike taak?
Die verkondigers van die Evangelie het die mense vertel dat God hulle wil verlos en kinders van Hom maak. Hulle word dan deel van die volk van God. Ons as mens se taak is dus om kinders van God te word en dan so te leef dat dit sigbaar word dat ons kinders van God is.
- Wie is hiervoor bestem?
Uit die teks is dit duidelike dat die boodskap aan alle mense verkondig moet word. Die besluit lê dan by God. Hy het besluit wie daarvoor bestem is om kinders van God te wees. Ons taak is om passievol te verkondig.
- Wanneer het dit gebeur?
Alhoewel God nou mense se lewens verander, sien ons hier dat die besluit van hoe dit gaan gebeur alreeds voor die skepping van die wêreld deur God geneem is. Dus voordat die mens geskape is, het God alreeds geweet hoe Hy mense gaan red.
- Hoe het dit gebeur?
Ons weet dat ons as mense nooit goed genoeg kan wees om dit uit ons eie te doen nie. Daarom word ons in Christus en deur Christus gered en verlos. Sy vrye genade word as ‘n geskenk aan ons gegee. Deur Sy bloed is daar vir ons wat glo verlossing. So word ons oortredings vergewe.
- Hoekom het dit gebeur?
God weet wie en wat ons sonder Hom is. Alhoewel God vir ons baie lief is, so lief dat Hy Sy Seun na ons wêreld stuur, kan Hy nie sien dat ons bly soos wat ons is nie. Deur die inwerking van Sy Gees in ons lewe, roep Hy ons tot ‘n heilige en onberispelike lewe. Hy maak Sy wil aan ons bekend en deur die werking van Sy Gees gebeur Sy wil deur ons lewe.
- En vandag gebeur dit nogsteeds.
Alhoewel dit was wat in Efese gebeur het en Paulus dit nodig geag het om die mense daaraan te herinner, om hulle so op te roep tot ‘n lewe van toewyding, moet ons besef dat dit vandag steeds in mense se lewens gebeur. Die proses is steeds presies dieselfde. Mense kom tot bekering en kinders word in die Naam van die Here gedoop en grootgemaak. Kom ons sê vir God daarvoor dankie deur ‘n lewe van dankbaarheid en in getroudheid in ons oordrag van wat ons glo aan ‘n volgende generasie.