Teks: 2 Samuel 7:1-17
Is daar iets wat permanent is?
Verbeel jou jy is ‘n Israeliet wat in Babilon in ballingskap sit en hierdie teks die eerste keer hoor. Almal het na ‘n beter toekoms uitgesien, maar daar is weinig kans dat hul omstandighede in die afsienbare toekoms gaan verbeter.
Die skrywer neem hulle terug na die tyd toe Dawid koning in Jerusalem was. Dawid het ‘n boodskap van God ontvang dat hy vir altyd sal bly regeer en dat God Hom nooit van Dawid sal onttrek nie. Hulle hoor dit en verstaan nie waarom hul omstandighede dan tans lyk soos wat dit lyk nie. Waar is die Here nou? Waarom het Hy van hulle vergeet? Ons lewe in ‘n wêreld van boosheid en daarom vra ons dieselfde vraag vandag nog.
Dawid is nie die beste van mense nie en tog verbind God Hom aan Dawid. As Dawid na sy eie omstandighede kyk sien hy hierdie verbintenis van God raak. Hy sien dat sy omstandighede aansienlik beter is as wat dit in die verlede was. Hy het rustigheid en vrede in sy lewe en nou voel hy om vir God ‘n tempel te bou om daarvoor dankie te sê. Die profeet Natan ondersteun hom heelhartig in hierdie projek.
God is egter glad nie vir hierdie idee te vinde nie. Alhoewel Dawid vir God ‘n permanente aanbiddingsplek wil bou, omdat sy eie posisie so voordelig en permanent is, verbied God hom om dit te doen. God leer Dawid dat Hy nie so ‘n tipe God is nie. Hy kon saam met die Israeliete deur die woestyn trek. Hy kan nie aan een plek verbind word nie. God gaan nie die speletjie van permanensie speel nie.
Hy is die Almagtige God wat oral aan die werk is. Daarom kan die Israeliete selfs in ballingskap bewus wees van Sy nabyheid en sorg. Hulle kan hul rus en vrede daarin vind. ‘n Mens kan op geen plek in die wêreld kom waar God nie is nie. Vir hulle lê hul permanensie in die wete dat God daar by hulle is.
Die teks wil ons leer dat ons ook nie ons sekerheid of permanensie moet vind in wat ons bymekaar maak nie. Permanensie vir ons is God wat in die alledaagse by ons is. Hy is die Groot Ewige Permanensie. As ons besef dat Hy so aan ons verbind is kan geen verliese ons oorweldig nie. Dit leer ons om vry binne die chaos van elke dag te leef en vir God binne dit alles te beleef.
God is hier om raak gesien te word, Hy is teenwoordig, nie in ‘n tempel vasgevang nie en Hy los ons nooit alleen nie.