Teks: Johannes 6:1-16
Gelowiges is altyd besig met ‘n lewensreis. Ons is oppad. Ons is letterlik besig om die lewe te leef, soos wat ongelowiges ook maar doen. Maar dan is ons ook geestelik met ‘n reis besig. Hierdie 2 reise kom dan baie keer in botsing met mekaar. Aan die een kant moet ons ons alledaagse lewe leef, met sy verantwoordelikhede en probleme en aan die ander kant hoor ons dat ons ons vertroue volledig op God moet plaas.
Ons leef in hierdie werklikheid. Daaraan kan ons niks verander nie. Ons is geleer dat ons hierdie werklikheid moet aanvaar, logies daaroor dink en dan realisties optree. Uit ons ervaring het ons reeds geleer wat werk en wat werk nie. Dit bepaal dan ons besluite in ons huidige konteks en situasie. Die probleem is egter dat alles oor my gaan. Ek besluit. Ek maak planne.
Ons teks van vandag gaan ook oor ‘n onoorkomlike werklikheid. Duisende mense het Jesus gevolg en na Hom geluister. Niemand het egter daaraan gedink dat hulle so ver en so lank van hul huise af sou bly nie. Nou begin dit donker raak en die mense honger. Jesus sê vir Sy dissipels om die mense kos te gee. Die teks sê dat Jesus reeds geweet het wat Hy gaan doen. Hy wou hulle toets.
In hierdie werklikheid neem die dissipels al die feite in ag, dink logies daaroor en kom tot ‘n realistiese gevolgtrekking: Stuur die mense huis toe. Hier is nie kos vir die mense nie. Daar is egter ‘n seuntjie met ‘n kosmandjie vis en brood. Die dissipels bied dit nie vir Jesus in geloof aan om te sien wat Hy daarmee gaan doen nie. Dis eerder dat hulle vir Hom sê, dis al wat ons kon kry. Dis net logies en realisties dat niemand nog ooit soveel mense met hierdie bietjie kos kon voed nie. Dit kan mos nie nou gebeur nie.
Maar hulle is geestelik oppad met Jesus, of eerder, Jesus is geestelik oppad met hulle. Hulle moet geleer word om God te vertrou. Hulle moet leer dat God die Groot Werklikheid is. Hulle moet leer om God se Werklikheid te begin sien. God dink nie logies en realisties oor die aardse werklikheid soos ons nie.
Is my omstandighede dalk droewig? Lyk alles verlore, sonder ‘n uitkoms? JA. Moet ek handdoek ingooi? NEE. Want God is nog nie klaar nie. God weet wat Hy vir ons beplan. Voorspoed en nie teenspoed nie. Dit is juis hier waar geloof inkom. Waar God aan die werk raak.
Die mooiste van die wonderverhaal is nie dat al die mense kos gekry het nie, maar eerder dat die dissipels met leë hande voor Jesus gestaan het. Na die ete moes hulle die stukke optel. Elkeen staan toe met ‘n mandjie vol oorskiet voor Jesus. Dis hoe magtig Hy is. Gaan dan en deel verder uit. So maak Hy ook met ons.