Preekskets 05 Augustus 2018 Ds Jacques – ‘n Aanneemlike offer


Teks:  Psalm 51

 

Dawid staan verbrysel deur sy sonde.  Natan het dit aan hom uitgewys.

Een ootreding het egter tot ‘n volgende gelei.  Eers het hy gekyk, toe planne begin maak om die vrou te beïndruk, dit lei tot owerspel, ‘n swangerskap en dan tot moord.  Ons sien die afwaartse spiraal van sonde.

Die vraag is nou:  Hoe gaan Dawid hierop reageer?  Hy kan maklik die blaam op iemand anders plaas.  Hy kan homself verontskuldig.  Hy kan dit afmaak as niks.  Hy kan in woede reageer.  Of hy kan sy skuld erken.

Dawid besluit om sy skuld te erken.  Hy draai na God en bid vir genesing.  Hy verklaar die erns van sy oortredings.  Hy bely dat hy nie van die gedagtes aan die sondes kan ontslae raak nie.  Bo alles bely hy dat die sonde oortreding teen God was en veroorsaak het dat die verhouding tussen hom en God verbrokkel het.

Hy probeer nie eens hom homself te verontskuldig nie.  Hy verskerp eerder sy skuld voor God deur op sy ingebore, menslike aard en sondigheid te wys.  Hy verklaar dat sy sonde nie net oortredind van die wet beteken nie, maar veral oortreding teen die lig van God in sy hart.

Sy grootste begeerte is om die verhouding tussen hom en God weer te kan herstel.  Daarom smeek hy om vergifnis en genesing.  Hy smeek God om sy hart en siel reg en ferm te maak.  Hy smeek God om hom die vreugde van vergifnis en van ‘n herstelde verhouding met God te laat ervaar.  Hy wil weer ‘n volgeling van God wees wat sy vreugde daarin vind om die Woord van God te gehoorsaam.  Hy wil weer ‘n mens word wat ruimhartig teenoor ander mense optree en nie sy sy dade ander mense benadeel of uitbuit nie.  Hy vra vir soveel vreugde dat dit sal oorgaan in lof en eer tot God.

Dit sien ons dan ook in hierdie Psalm raak, hier waar hy dit kan regkry om te skryf oor sy sonde, vergifnis, herstel en aanbidding.  Hierdie Psalm is ‘n wonderlike vertroosting en bemoeding vir alle mense.  Elke mens gaan deur tye in sy of haar lewe waar dinge heeltemal verkeerd loop as gevolg van die dinge wat ons doen.  Soos in die geval van Dawid veroorsaak dit gewoonlik ‘n groot hartseer in ons lewe en ‘n skeiding tussen ons en God.  Kom ons leer uit die manier hoe Dawid sy skuld hanteer en doen dit ook so in ons lewe.  Kom ons ervaar dan God se wonderlike genade en verlossing en leef dan weer uit die lewe van oorwinning wat God aan ons skenk.