Preekskets 30 Junie 2019 Ds Jacques – Laat die Gees jou gedrag bepaal


Teks:  Galasiërs 5:13-25

Liedere:  509:1,4    250:1,2    200:1,2,3    505:1,2,3,4

 

Daar is twis en rusie in die gemeente.  Waarskynlik gaan dit oor die verskil van mening oor die besnydenis en die onderhouding van rituele wette.  Die spanning raak so erg dat dit tot verdeeldheid in die gemeente lei.

Vir Paulus lê die oplossing vir die probleem daarin om die gemeentlede te herinner wie hulle in Christus is.  Hulle het die Ware Evangelie gehoor, die Evangelie van Vryheid.  Daarom het hulle nou ‘n nuwe identiteit in Christus.  Gevolglik moet hulle vanuit hierdie wete optree.

Die gemeente moet besef dat hulle met Christus beklee is.  Die kernbeginsel wat nou hulle gedrag moet bepaal is liefde.  Dit gaan dus nie meer vir hom oor wetsonderhouding nie, maar ‘n dankbaarheidslewe vanuit wie hulle nou in Christus is.  Leef liefde.

In hierdie teks stel Paulus vir hulle die ou mens teenoor die nuwe mens.  Omdat die Heilige Gees nou in hulle is, is hulle nuwe mense.  Dit gaan dan oor hul sondige verlede teenoor ‘n opregte, toegewyde, dankbaarheidslewe.  Die teks werk met die kontras tussen die Gees en die vlees.  Die mens neig na sondigheid en is daarom ‘n slaaf van die sonde.  Nou is daar vryheid.  Die waarskuwing is egter dat ons daarteen moet waak om nie in ‘n nuwe wettiese gehoorsaamheidsjuk te verval nie.  Dan raak ons slawe van werke en dit mag nooit nie.  ‘n Dankbaarheidslewe is ‘n lewe van vreugde.

Dis ‘n vreemde vryheid.  Ons is versigtig om nie weer in dwang te verval nie.  Dis ‘n vryheid waarin ons nie toegelaat word om te doen net wat ons wil nie, omdat dit ‘n vryheid is wat nie meer deur die vlees beheer word nie.

Ons vryheid word bepaal deur die gevolge van ons aksies.  Ons is wel vry, maar ons dink voordurend wat die gevolg van ons aksies gaan wees, want gehoorsaamheid aan die vlees beteken die ewige dood.  Gehoorsaamheid aan die Gees beteken egter die Ewige Lewe.

Al is ons dus vry, bly ons steeds tot ‘n mate slawe, maar nou slawe van Christus, diensslawe vir ons medemens.  Dus vry, maar vryslawe van die liefde.   Ons leer dus om saam met die Gees te stap, in gelid met die Gees te masjeer.  Die teks sê dat ons nie kan kies watter van die Geestelike deugde ons wil vertoon nie.  Die teks sê hierdie deugde moet sigbaar wees in ‘n gelowige se lewe wat die Vrug van die Gees vertoon.

Leef dus in vryheid, maar in gelid saam met die Gees en saam met ander.  Moenie verder twis nie, maar neem mekaar in ag.  Laat die Gees jou gedrag bepaal.